Hoeveel krag vreet jou warmwatersilinder?
2006-02-16
KOMMER dat die land se elektrisiteit met bestaande kragstasies teen 2007 nie voldoende sal wees vir spitstydverbruik nie, het die Munisipaliteit genoop om te kyk na besparingstappe in spitstyd. Die land se elektriese spitstydverbruik is gedurende die oggend tussen 07:00 en 10:00 en in die aand tussen 18:00 en 20:00 die hoogste.
Veral die aandspitstydverbruik is besig om baie vinnig te styg, weens die intensiewe elektrifiseringsprogram wat jaarliks meer huishoudelike verbruikers aan die netwerk koppel.
Die risiko van groot kragonderbrekings gedurende die spitstye moet dus dringend aangespreek word.
Eskom en die regering is tans besig met planne om die probleem op die lang termyn op te los, maar selfs al word daar nou begin om addisionele kragstasies te bou, sal dit nie betyds in werking wees vir 2007 nie. Daar moet dus dringend na korttermynoplossings gekyk word op nasionale vlak.
Ondersoeke het getoon dat een van die groot oorsake van die spitstydverbruik die verwarming van water met warmwatersilinders (geysers) is.
Daar is dus landwyd begin met ‘n projek om die gebruik van elektrisiteit deur warmwatersilinders gedurende die spitstye te beheer.
Die projek bestaan daaruit dat ‘n apparaat in elke huis geplaas word om die elektriese toevoer na die warmwatersilinder deur middel van ‘n sentrale beheerstelsel, met behulp van radioseine, te beheer. Warmwatersilinders in ‘n dorp word in sones ingedeel en die sones word gedurende spitstyd op ‘n rotasiebasis vir kort tye afgeskakel om die totale aanvraag te beheer.
Die Drakenstein Munisipale Raad het die situasie oorweeg en besluit dat daar deelgeneem moet word aan die program om die nasionale risiko te help afweer.
Vir dié doel het die Raad vir IST Otokon aangestel om ‘n ondersoek te doen, ten einde te bepaal of so ‘n stelsel in die Drakenstein-omgewing ‘n wenslike bydrae tot die nasionale doelwit kan maak. Inwoners in die Paarl, Wellington en Pniel moet van die volgende punte kennis neem:
* IST Otokon is deur Eskom geakkrediteer om die werk te doen en is ‘n kundige op die gebied. Die ondersoek word gedoen met geen finansiële implikasies vir die Raad nie en die Raad het geen verpligting om homself te verbind om die projek te laat uitvoer nie.
* Indien die projek aanvaar word deur die Raad sal die kapitale projek self ook nie enige finansiële kostes vir die Raad inhou nie. Alles word uit Eskom/NER fondse betaal.
* Werk in die huise sal die inwoners niks kos nie. Soortgelyke projekte wat in ander dorpe werk, het getoon dat dit nie inwoners ernstig verontrief nie. Die toerusting wat gebruik word, voldoen aan SABS standaarde en is van hoogstaande gehalte.
* Dit is nodig om ‘n steekproef in die area te doen by ongeveer 10% van die huise en inwoners, waartydens ‘n verteenwoordiger van die maatskappy binne die huis sal wil vasstel hoe groot die warmwatersilinder op die inwoner se perseel is.
Daar is ook ander vrae wat inwoners asseblief moet beantwoord. Dit sal binne die volgende twee maande gebeur en die inwoners word gevra om die verteenwoordiger vir die amptelike munisipale brief te vra voordat toegang tot die huis verleen word.
Omdat die projek van nasionale belang is word inwoners gevra om hul steun aan die steekproef te gee.
More
News
|