Perde-uithourit by Boland Landbouskool
2005-04-07
STAMINA van beide mens en dier sal beproef word wanneer ’n perde-uithourit aangebied word op die terrein van die Hoër Landbouskool Boland.
Die rit word Saterdag 9 April aangebied deur die Wes-Kaap Uithouritklub. Die klub is een van 15 in die Kaap en vorm deel van die Westelike Provinsie Unie.
Elke klub moet jaarliks een rit aanbied wat ryers dus kans gun om in 15 ritte hul merk te maak.
Ruiters kan inskryf vir afstande van 30km, 60km of 80km.
Ruiters wat nie lede is van ’n uithouritklub nie, mag ook inskryf as dagruiters en mag aan die 30km-rit deelneem.
Daar word sowat 100 inskrywings verwag. Ná elkeen van die drie bene van die rit, is daar ’n verpligte rusperiode van 45 minute. Gedurende dié tyd word die perde deur veeartse ondersoek vir moontlike beserings of uitputting en onttrek indien dit nodig geag word.
Die ruiters spring weg in groepe van agt, met die eerste groep wat om 07:00 begin rieme neerlê.
Toeskouers is welkom, daar sal verversings wees en ook ’n uitkykpunt vanwaar ’n deel van die baan besigtig kan word.
Navrae: Daan Poggenpoel (886-6030).
More
News
|