Boland-atlete oes medaljes op SA's
2006-02-16
DIE grootste Boland-span wat nog ooit aan ’n SA Senior Baan- en Veldkampioenskap deelgeneem het, het ses goue medaljes verower tydens die SA’s wat die naweek in Port Elizabeth gehou is.
Die Boland het derde geëindig op die medalje-tellinglys ná Sentraal-Gauteng en Noord-Gauteng wat onderskeidelik eerste en tweede was.
Wat die prestasie van die Boland meer merkwaardig maak, is dat al 31 Boland-atlete wat aan die byeenkoms deelgeneem, die finaal in hul onderskeie items gehaal het.
Twee van die goue medaljes is deur die plaaslike atlete Sors Joubert en Steintjie Prins verower.
Joubert het die tienkamp gewen met ’n totaal van 7150 punte terwyl Prins se tyd van 3:10,24 in die marathon goed genoeg was vir die eerste plek.
Die Paarlse driespronger, Elmarco Mathews, het met ’n afstand van 15,33m vir homself ’n bronsmedalje verseker.
Izak Nel, die veteraan van Paarl Atletiekklub wat verlede jaar ’n bronsmedalje in die 20km stap verower het tydens die Wêreld Meesterskampioenskap, het ’n vierde plek behaal.
Sy tyd van 1:36,32 was ook vinniger as die huidige Boland-rekord van 1:37,26.
Die dag het egter behoort aan Janice Josephs van Maties Atletiek.
Sy was die beste atleet op die byeenkoms nadat sy drie goue medaljes in die sewekamp, verspring en 100mH ingepalm het.
Josephs het tydens haar wensprong van 6,49m in die verspring vir vroue daarin geslaag om Annie Kloppers se rekord van 6,40m te breek wat in 1986 opgestel is.
Ander medaljewenners is (goud) Okkert Brits (paalspring 5,65m), Janus Robberts (gewigstoot 20,47m), (silwer) Robert Oosthuizen (spiesgooi 79,43m), Robberts (diskusgooi 56,65m), Francois Coetzer (paalspring 5,00m) en Veronica van Niekerk (marathon), (brons) Johan du Plessis (paalspring 4,80m).
More
News
|