Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Miljoene vir Boland Rugby

Miljoene vir Boland Rugby
 
2006-02-16


DIE seisoen kon nie vir Boland Rugby op ’n beter noot begin het nie.
Nie alleen het die Boland Kavaliers Saterdag in hul eerste wedstryd van die seisoen 40-19 met die verdedigende Vodacom-bekerkampioen, Griekwas, afgereken nie, maar die provinsie se finansiële probleme blyk iets van die verlede te wees.

Die Fidentia Group, ’n finansiële instansie in Kaapstad, het ’n 50% aandeel in Boland Rugby (Edms) Bpk, die Unie se kommersiële arm, bekom.

Fidentia het terselfdertyd ’n multimiljoenrand borgskap vir die volgende vyf jaar aan Boland Rugby toegestaan.

Hoewel Fidentia nie die presiese bedrag van die borgskap bekend wou maak nie, is daar sprake van R60 miljoen wat Boland se koffers oor die volgende vyf jaar sal versterk.

Die geld sal byna 50-50 tussen die Boland se amateur en professionele arms verdeel word.

“Die Unie het nou die nodige finansiering om hul span te versterk en hul spelers van hoë kaliber wat dikwels deur groter rugbyunies weggelok word, te behou,” het Arthur Brown, uitvoerende voorsitter van Fidentia, gesę.

Die besluit om Boland Rugby te borg, was grootliks te danke aan die ontwikkeling wat die provinsie onder agtergeblewe spelers verrig.

“Dit is voorwaar ’n baie opwindende oomblik in die geskiedenis van Boland Rugby,” het die president van Boland Rugby, Jackie Abrahams, Donderdag tydens die amptelike bekendmaking by Fidentia se kantore in Canal Walk gesę.

“Dit is nie net ’n finansiële inspuiting vir die Boland Kavaliers nie, maar ook vir die amateur- en skolespanne en ook die Jack Abrahams Akademiehuis,” het hy gesę.

Hy het bygevoeg dat daar in die algemeen na die Boland as een van die “klein rugbyprovinsies” verwys word.

“Kyk mens egter na die werk wat ons as rugbyprovinsie doen en nou met die toetrede van Fidentia, kan daar beslis nie meer na 'klein' verwys word nie.”

Die Boland is geografies die grootste rugbyprovinsie in die land met 200 rugbyklubs wat by die Unie geaffilieer is.

Die fondse wat van die borgskap verkry is, sal in alle dele van die provinsie aangewend word op beide professionele en amateurvlak.

Vier lede van die Fidentia Group sal op die raad van Boland Rugby (Edms) Bpk dien.

Hulle is Arthur Brown (uitvoerende voorsitter van Fidentia), Johan Linde (besturende direkteur van Fidentia), Andrew Tucker (algemene bestuurder van gemeenskaplike ontwikkeling) en Martin van Schalkwyk (voormalige Stormers-speler).

Die goeie werk wat Boland Rugby op voetsool-vlak verrig, is ook in ander oorde raakgesien en het die Unie van nog ’n borgskap voorsien.
Kooga, ’n kleremaatskappy in Kwazulu-Natal, het Donderdagaand ’n hele reeks klere aan die Unie oorhandig.

Die besluit om Boland te borg, was weer eens in lyn met Kooga se beleid om ontwikkeling onder agtergeblewe gemeenskappe te bevorder.

* Die Boland Kavaliers speel môre om 17:00 teen die Poemas op Wellington.

Die span is Justin Peach, Louw Schabort, Kobus Meintjies, Claude Arendse, Ricardo Pietersen, Solly Goosen, Charl Blom, Nico Smit, Henley du Plessis, Evert Kleynhaus, Piet Myburgh, Willie Bower, Tommy Dixon, Conrad Burke (k) en Fabian Brandt.

Toegang is R20 vir volwassenes en gratis vir kinders.



More News
  • Kavaliers moet momentum gebruik
  • Sewes-aksie begin reeds môre
  • Baie visse uitgetrek
  • Standards koning
  • Last shot at gun run
  • Entries open for local MTB race
  • Wedvlug-duiwe
  • Sportdagboek
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za