Verkiesing: elke stem tel Woensdag
2006-02-23
‘n Nuwe leierskorps vir die munisipaliteit sal tydens die plaaslike verkiesing volgende Woensdag ingestem word. Maar wat het die talle kiesers wat hierdie leierskorps in beheer gaan stel, te sê?
“Ja, ek gaan stem,” reken Fredell Julius. “My stem en die stem van talle ander mense kan dalk net die verskil tussen reg en verkeerd beteken.”
Hy dink ook dat die huidige munisipaliteit hul werk doen, byvoorbeeld met vullisverwydering, maar nie veel doen aan swak sosiale omstandighede nie: “Daar is ruimte vir verbetering.”
Cornel van der Berg sê dat hy nie geregistreer is nie, maar sê dat hy in elk geval nie gaan stem nie, aangesien hy nie in politiek belang stel nie.
Hy meen die munisipaliteit lewer die nodige dienste, en verwys na die padherstelwerk in die Hoofstraat as bewys hiervan.
Marita Neethling sê dat sy definitief sal gaan stem, aangesien sy en baie ander voel dat daar in die verlede baie beloftes aan die publiek gemaak is, wat net eenvoudig nooit nagekom is nie.
Sy is ook bekommerd oor die modus operandi van die die plaaslike regering.
“Daar is definitief ‘n laksheid wat dienslewering betref.” Sy bly egter optimisties en sê: “Ek voel dat ek, as ‘n gewone belastingbetaler, ‘n geleentheid het om ‘n verskil te probeer maak.”
Appollis Esterhuizen verklaar: “Van 1994 af het ek nog nooit weer gestem nie en ek gaan ook nie in hierdie verkiesing stem nie.” Hy voel dat die politici beloftes maak aan die massas, maar dit nooit nakom nie.
“Hulle het vir ons huise belowe in Groenheuwel, maar daar gebeur niks.”
Sy grootste probleem met die huidige stadsraad is dat hulle niks aan werkloosheid doen nie. Dit is volgens hom ook een van die grootste oorsake van misdaad in die omgewing.
Omgewing
Baie mense meen die stadsraad gee te min om vir die natuurlike omgewing en die munisipaliteit se onvermoë om besoedeling te bestry.
“As jy nie stem nie, kan jy net die vinger na jouself toe wys as dinge nie gedoen word soos wat jy dit wil hê nie,” sê Johan Brand.
Hy meen die stadsraad moet sterker optree teen rommelstrooiing. “Hulle sal swaarder boetes moet oplê teen mense wat rommel strooi en meer skoonmaak waar mense mors.”
Nog ‘n Paarliet en kleindogter van ‘n raadslid, Vigilea Claasen, meen dis nie die moeite werd om te stem nie.
“Dit eintlik net ‘n mors van tyd en geld. Die politieke toestand in die Wes-Kaap het nog min bygedra om die skeiding tussen verskillende rassegroepe af te breek. “Dit voel nog altyd soos apartheid.”
Sy is ook soos talle ander van mening dat die toestand van die strate en die Bergrivier onaanvaarbaar is.
Serina Heswick reken dat die stadsraad hul bes probeer om aan almal se behoeftes te voldoen en dat hulle sukses eintlik geheel en al afhanklik is van die samewerking van die gemeenskap.
“Ek gaan stem, aangesien dit vir ons ‘n beter toekoms verseker,” sê sy. “Elkeen se stem sal vir seker ‘n verskil maak.” (Meer oor die kandidate op bl 20 en 21.)
* Local residents are in two minds about voting next Wednesday.
More
News
|