Gesin op N1 aangeval
2006-02-23
MET sy vrou en kleuters wat hulpeloos uit hul motor toekyk, is ’n oud-Wellingtonner Sondag naby die tolhekke buite die Paarl aangeval.
Johan du Plessis, onderwyser in Durbanville, het die dood net vrygespring.
Johan was om 18:00 op die Sonstraalbrug oor die N1 toe hy besef daar skort iets met sy motor. Hy het by die afrit tot op die snelweg gevorder en uitgeklim om ’n smeltdraad te vervang.
Johan het skaars die enjinkap oopgehad, of vier jong mans het uit die bosse langs die pad op hom afgepyl.
Twee met messe het hom vasgegryp terwyl die ander twee na die agterdeure van die motor gemik het waar sy vierjarige seuntjie en babadogterjie van 22 maande gesit het.
“Gelukkig het Hanlie die messe gesien en die motor gesluit,” het Johan sy vrou geprys.
“Hulle wou my selfoon hę, en ek was besig om dit uit te haal toe flits die messe al. Ek dink die selfoon was ’n bysaak, hulle wou my doodmaak.
“Elke keer as die mes kap, het ek skuins geruk. Die mes het my ribbes skrams gevang en in my arm vasgesteek, maar darem nie in my bors nie.
“Al was dit helder dag en binne sig van die tolhekke, het motors in strome verbygery,” het hy gesę.
Hy het aan Hanlie geskree om die polisie te bel en toe gemaak asof hy die polisie sien aankom.
“Net toe het ’n vragmotor aan die oorkant van die N1 gestop en ’n man met 'n koeëlvaste baadjie en geweer het uitgeklim. Die aanvallers het seker gedink dis die polisie, want hulle het weggehardloop.”
Johan het in sy motor gespring en met bloed wat uit sy arm stroom, weggetrek. Kort daarna het Hanlie die stuur oorgeneem en verder na die Durbanville kliniek gehaas.
“Ek het later besef hoe gelukkig ons was. Ons is baie dankbaar. Mense moet versigtig wees op daardie pad,” het Johan gesę.
“Dit sal ons nog lank bybly, veral vir klein Daniel. Toe ek in die motor spring, het hy gehuil en gesę hy is so jammer dat hy nie sy pappa kon help nie.”
Op Wellington het sy pa, Niel du Plessis van die plaas Uitkyk, Sondag die oproep met skok ontvang.
“Johan het die oggend vertel dat dit lewensgevaarlik was om deur die Paarl te ry met mense wat oor padaansluitings jaag tydens die kragonderbreking.
“Ek sę toe hy moet die verkeer vermy en met die Sonstraalpad op die N1 kom!”
* A couple was attacked on the N1 near the toll plaza outside Paarl when their car broke down.
More
News
|