Ingenieur word vakbondman
2006-02-23
ONS het hom leer ken as brugbouer. Só sę Norman Johnson van Danie Carstens, nuutverkose president van die Independent Municipal and Allied Trade Union (Imatu).
Johnson, Drakenstein-takvoorsitter van dié munisipale vakbond, sę Carstens se besondere vermoëns het handig te pas gekom met die samesmelting van die verskillende munisipaliteite om Drakenstein te vorm.
“Daar was maar konflik, en elke keer wat Danie moes optree, het ek besef hy is ’n leier met visie.”
Carstens, wat op die oomblik in Drakenstein Munisipaliteit se departement van die stadsingenieur werk, het reeds 31 jaar munisipale diens agter die blad.
Buiten tien maande by Wellington, is al dié diensjare by Paarl Munisipaliteit (nou Drakenstein).
Hy is reeds in 1985 verkies op die uitvoerende komitee van die destydse SAVMW.
Sedert 1997 dien hy in verskeie provinsiale en nasionale strukture van Imatu, onder meer as nasionale uitvoerende raadslid, voorsitter van die Wes-Kaapstreek en adjunk-president.
Hy was ook al betrokke by die Wes-Kaapse en die Nasionale Bedingingsraad, asook die LGSETA.
Sedert September is hy ook nasionale vise-president van Fedusa (Federation of Trade Union of South Africa).
“Dit is soos ’n feëverhaal dat iemand uit die Paarl in so ’n kort tyd nasionale president geword het,” het Etienne Bruwer, Wes-Kaap bestuurder van Imatu, gesę.
Hy skryf dit toe aan Carstens se leierskap, rustigheid en kalmte.
“Danie is ook ’n baie nederige mens wat altyd ander raaksien.” Bruwer het ook hulde gebring aan Carstens se vrou, Unita, vir die ongelooflike opoffering wat sy maak.
En ’n opoffering is dit - vir albei van hulle.
Carstens is die eerste Imatu-president wat steeds ’n voltydse pos by ’n munisipaliteit ook beklee. Imatu is die grootste munisipale vakbond na Samwu.
“Dit verg nogal baie,” vertel hy. “Imatu se hoofkantoor is in Pretoria en ek vlieg minstens een keer per week soontoe vir vergaderings en dies meer.”
Die tye wat hy in die Paarl is, beteken dit vroeë oggende en baie laat nagte om deur sy werklas te kom.
Hy is egter baie opgewonde oor sy taak: “Ek het ’n passie om mense te help met arbeidsverwante probleme en was nou betrokke by die posevalueringsproses tussen 1987 en 1990.”
Carstens stel ook intens belang in plaaslike regering en die uitdagings wat Imatu in die gesig staar met herstrukturering en verandering.
“Ek glo Imatu sal ’n belangrike rol speel in die tyd wat voorlę,” het hy gesę met verwysing na die beweging om munisipale amptenare oor te skakel na staatsamptenare.
“As president van Imatu besef ek die groot uitdagings wat voorlę en die verantwoordelikheid wat daarmee saamgaan.
“Ek het nog baie om te leer,” het hy afgesluit. Ek vra die lede dat hulle my meet aan die resultate wat ons almal saam bereik gedurende my termyn.”
Carstens is op Koringberg gebore, maar het op Elandsbaai grootgeword. Nadat hy matrikuleer het op Graafwater, het hy aan die Kaapse Kollege en later die Kaapse Technikon in driehoeksmeting studeer.
Hy en sy vrou, Unita, het twee dogters, Marijke (23) en Christelle (21).
More
News
|