Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Sakelui vereer

Sakelui vereer
 
2006-02-23


VIER sakemanne het toekennings van burgemeester Herman Bailey ontvang tydens die onlangse spesiale toekenningsaand in die Paarl.

Die vier is Tom Abrahams, Johan Pauw, Boyce Godlo en Attie Brink.

Tom Abrahams van Wellington is ’n kleinsakeman wat onder moeilike omstandighede daarin geslaag het om ’n suksesvolle eenmansaak op te bou.

Met besigheidsgrond tot sy beskikking het hy die geleentheid raakgesien om potensiële klein sakeondernemings onder dak te vestig.

In die jare sestig het wetgewing bepaal dat smouse oor stoorruimte moes beskik wat aan sekere gesondheidstandaarde voldoen as ’n voorvereiste om gelisensieer te word.

Vir die nuwe kategorie sakemense het Abrahams die stoorruimte verskaf.

Só het hy dit waarna in die sakewêreld gestreef word, naamlik die vestiging van kleinsake-ondernemings, reeds in die jare sestig ’n werklikheid gemaak op sy sakeperseel in Pentzstraat, Wellington.

Na die verslapping van die lisensie-vereistes vir smouse is die ruimtes omskep vir klein sakeondernemings soos haarkappers, skoenmakers, kantore en groente- en vrugtehandelaars.

“Meneer Abrahams was sy tyd ver vooruit en het sy eie kapitaalbeleggings aangewend om ook ’n nuwe generasie sakepersone op die been te bring,” het die burgemeester hulde gebring aan sy versiendheid.

Johan Pauw

* Indien ’n nuwe ontwikkeling in die Paarl en omgewing plaasvind, is die kanse goed dat Johan Pauw daarby betrokke is.

Een van die bekendste projekte wat hy ontwikkel het, is die gholfbaan-landgoed by Boschenmeer suid van die Paarl.

’n Ander projek wat in beplanning is, is die herontwikkeling van 'n woonstelblok, asook addisionele parkeerruimte op die plein voor die Afrikaanse Taalmuseum.

Verlede jaar in Januarie is die ontwikkeling van ’n ander sekuriteitskompleks suid van die Parysbegraafplaas deur die munisipaliteit goedgekeur, sowel as ’n selfs groter ontwikkeling langs Klein Parys.

’n Organisasie, Paarl our Business, is ook deur ’n groep besorgde sakepersone in die lewe geroep. Hulle is besig met beplanning om die sentrale sakekern van die Paarl te herontwikkel, sodat dit ’n aangename ondervinding kan wees om rustig te stap en inkopies te doen.

Ook in dié geval is Johan Pauw een van die direkteure.

Hy woon al die afgelope 19 jaar in die Paarl en is die afgelope 15 jaar betrokke by ontwikkelings.

Boyce Godlo

* “Jy moet daar wees vir jou kliënte.”
Dit is waarskynlik die beste opsomming van Boyce Godlo van Mbekweni se houding teenoor klante wat die besigheid besoek wat hy en sy broers geërf het ná die dood van hul pa, Max.

Boyce het Publieke Administrasie aan die Skiereilandse Technikon studeer en naweke in sy pa se supermark gehelp.

Nou moet hy die besigheid bestuur, en dit beteken ten minste 12 ure per dag en sewe dae per week, saam met die res van sy span, sy twee broers en ander personeel.

Attie Brink

* Attie Brink was een van die stigterslede van die Wellington Stokkieskwekersvereniging in 1964 en hy het vir 29 jaar op die bestuur gedien.

Tydens sy termyn as bestuurslid het hy baie veranderinge en verbeteringe in die wingerdstokkiesbedryf meegemaak en meegehelp om dit te vestig as dié bedryf van Wellington.

Die vereniging is aanvanklik gestig om onder andere plantmateriaal te selekteer om sodoende beter kwaliteit stokke te kan produseer, asook die bedryf te beheer.

Later het hulle met die KWV se plantverbetering saamgewerk om die kwaliteit van die wingerdstokkies te verbeter.

Brink was ook vir 16 jaar direkteur van die Bovlei Kelder en dien steeds op die Kromrivierbesproeiingsraad.



More News
  • Manager did much good work
  • Zandwyk Park goes ahead
  • Rare wines hold their own at auction
  • Multiple awards for Grande Provence
  • Grondkundige kragte saamgespan
  • Fairtrade vloei suiwer by Bosmans
  • Sweet success for Nederburg
  • “TERROIRIST” at Nederburg Auction
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za