Gim tennisspelers gee eerste nasionale treë
2006-02-23
TENNIS by die Hoërskool Paarl Gimnasium het ’n reuse-hupstoot gekry met die eerste uitnodiging na ’n nasionale toernooi vir beide die seuns- en meisiespanne.
Die Hoër Landbouskool Marlow is die trotse aanbieders van die jaarlikse Tjaart Vorster Uitdaagtoernooi vir hoërskole en dit is beslis ’n groot voorreg om na hierdie prestige-toernooi genooi te word.
Tien seunspanne sal sake uitspook om die gesogte Marlow-wisseltrofee terwyl die agt meisiespanne sal poog om die Victoria Manor-trofee huis toe te bring.
Hoërskool Stellenbosch (seuns) en die Hoërskool Cradock (meisie) het in 2005 met die louere weggestap.
Die seunspanne wat vanjaar aan die toernooi gaan deelneem wat vanaf 1 tot 5 Maart op Cradock gespeel word, is Marlow (gasheer), Hoërskool Cradock, Afrikaans Hoër Pretoria, Hoërskool Outeniqua (George), Hoërskool Voortrekker (Bethlehem), Paarl Gim, Maritzburg College, Hoërskool Nelspruit, Hoërskool Grens (Oos-Londen) en HTS Daniel Pienaar (Uitenhage).
Nelspruit is vanjaar die oorweldigende gunsteling en sal moeilik geklop word, terwyl Cradock ’n gevaarlike buiteperd is.
Die meisiespanne wat sal deelneem, is Hoërskool Cradock, Gill Kollege (Somerset-Oos), Hoërskool Outeniqua, Hoërskool Nelspruit, Hoërskool Hermanus, Paarl Gim en DSG (Grahamstad).
Die verdedigende kampioen, Cradock, sal weer eens kwaai teenstand van Nelspruit (naaswenner in 2005) kry met Paarl Gim die buiteperd.
Cradock sal dié naweek weer in rep en roer wees wanneer dié 18 spanne (126 spelers) op die dorp toesak.
Wat die toernooi spesiaal maak, is die gulle ontvangs en Karoo-gasvryheid waarmee besoekers ontvang word.
Die hoogtepunt van die toernooi is die Tjaart Vorster-toekenning aan die speler van die toernooi, wat tydens ’n luisterryke dinee oorhandig word.
More
News
|