Vis by dosyne
2006-02-23
SES hengelaars van die Paarl Kushengelklub was deel van die Boland B-span wat onlangs aan die tweede B-span Kampioenskap op Struisbaai deelgeneem het.
Die Paarliete Tony Kruger, Gerrit van Niekerk, Brian Crouzier, Jacques Louw, Wilhelm Bouwer en Muis van Niekerk het die helfte van die 12-man span uitgemaak.
Tien provinsiale spanne het deelgeneem, met 2438 visse wat oor die drie dae van die toernooi gevang is. Slegs 27 van dié totaal was eetbaar, terwyl die res almal haaie was.
Die grootste vis was ’n kabeljou van 26,2kg, terwyl die grootste haai ’n swart kortstert pylstert was, wat die skaal op 143kg laat trek het.
Al die vis, wat ’n totaal van 7950,70kg geweeg het, is teruggeplaas. Die Boland B-span was algeheel sesde na die OP, WP, Suid-Kaap, Grens en Zululand.
Die Paarl Kushengelklub het ook sukses geproe toe hy verlede naweek aan een van die Boland Interklub-kompetisies deelgeneem het.
Goeie vangste deur Johan la Grange, Arno Dames en Bernard Kramer het die Paarl ’n gesonde voorsprong oor hul teenstanders gegee. Tussen die drie manne het hulle byna 300kg se diamantroę gevang.
Hoewel hul spanmaats Deon en Willie Southey en Morné Esterhuizen maar min uitgetrek het, was die span se totaal meer as genoeg om ’n sege te verseker.
Die klub hengel weer Saterdag op Struisbaai. Navrae: Morné by 083-290-6740 skakel.
More
News
|