Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Boland tas rond

Boland tas rond
 
2006-02-23


ONDERSTEUNERS van die Boland Kavaliers moes lanklaas ’n getjommel aanskou soos wat dié span Vrydag in sy Vodacombeker-wedstryd teen die Pumas op Wellington opgedis het.

Die Kavaliers, vars ná ’n 40-19 oorwinning oor die Griekwas die vorige week, moes met 31-17 die knie buig teen ’n bra middelmatige Puma-span.

Dit is ’n wedstryd wat die Kavaliers in hul eie agterplaas met gemak moes gewen het.

Maar toe die skopvoet van Solly Goosen vroeg in die wedstryd begin skeeftrek en hy vier maklike stelskoppe verbrou het, het dinge al afdraande begin gly.

Sake het vir Goosen vererger toe hy die veld met ’n gebreekte hand moes verlaat.

Hoewel Justin Peach se skoppogings beter gelyk het, het ook hy gesukkel om die mikke te vind.

Benewens die hanteringsfoute en gebrekkige skoonmaakwerk by die vaste-los, het ongedissiplineerde spel ook die Kavaliers se aanslag van balans gedwing.

Evert Kleynhaus en Piet Myburg is albei met geelkaarte beboet.

Van die vlymskerp agterlynbewegings en dodelik aanvalshoeke wat gewoonlik die Boland se spel kenmerk, was daar geen sprake nie.

Die Kavaliers was met ’n kwartier se speeltyd oor, 31-5 agter. Twee vinnige drieë en ’n doelskop deur Peach het die telbord darem ’n minder afgryslike prentjie vir die Boland laat skilder.

Die Pumas heelagter, Casper Steyn, kon egter nie ’n voet verkeerd sit nie. Sy drie, twee doelskoppe en vier strafskoppe het die Pumas op die wenpad gesit.

Volgens die Kavaliers se kaptein, Conrad Burke, was die swak vertoning weens 'n samevloei van faktore.

“Ons het die kanse wat ons gehad het om drieë te druk, nie gebruik nie,” het Burke gesê.

“Daar het ’n paar beslissings teen ons gegaan en dit het die spelers ietwat gefrustreer. Maar dit feit dat ons nie gouer aan die gang kon kom en die kontinuïteit behou nie, het ons die wedstryd gekos.”

Burke het bygevoeg dat daar vandeesweek hard gewerk is aan die spel rondom die afbreekpunte.

“Ons het gekonsentreer om vinniger by die afbreekpunte te kom en die bal lewendig te hou,” het hy gesê.

Die Kavaliers het gelukkig twee weke kans om aan hul vorm te skaaf. Hulle het die naweek ’n loslootjie, met hul volgende wedstryd wat op 3 Maart teen die Griffons op Welkom gespeel word.

“Ons het al voorheen goed teruggekom van soortgelyke terugslae,” het die staatmaker kaptein gesê.

Goosen, wie se hand in twee plekke gebreek is, is Woensdag geoppereer. Hy sal vir minstens ses weke buite aksie wees en word deur Antonius Verhoeven, wat die afgelope tyd vir die Springbok Sewespan gespeel het, vervang.



More News
  • Kavaliers moet momentum gebruik
  • Sewes-aksie begin reeds môre
  • Baie visse uitgetrek
  • Standards koning
  • Last shot at gun run
  • Entries open for local MTB race
  • Wedvlug-duiwe
  • Sportdagboek
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za