Koos Doep se liedjies by Oude Libertas
2006-03-02
“TREK my liedjies uitmekaar uit en skryf oor hulle,” het Koos du Plessis gesê, “maar los my uit; ek is ’n doodgewone ou.”
En tog, twintig jaar na sy dood, as daar gepraat word van ‘Koos Doep’, dan weet omtrent enigeen wat al ooit na Afrikaanse musiek geluister het, van wie gepraat word - dit is die omvang van sy bekendheid en sy invloed op Afrikaans en Afrikaanse musiek.
Hoekom dit so is, is die onderwerp van menige debat, partykeer in die lesingsale van universiteite, meesal in die middernagure, met ’n ‘Kinders van die Wind’ of ’n ‘Skielik is jy vry’ wat êrens in die agtergrond speel.
’n Verhoogstuk onder die titel Nagkantoor, deur PG du Plessis en Carl Theunissen, waarin op dié sanger/liedjieskrywer se musiek en lewe die fokus is, word van vanaand tot Saterdagaand om 20:15 by Oude Libertas op Stellenbosch opgevoer.
PG, bekroonde dramaturg maar ook skepper van gewilde volkskuns soos Koöperasiestories, was vroeër redakteur by Hoofstad, toe Koos daar subredakteur was.
Carl Theunissen, die filmmaker en jarelange vriend en kollega van Koos, het aan die stuk meegewerk.
Saam gee hulle in die stuk ’n ander perspektief op die kunstenaar wat allerweë beskou word as die belangrikste invloed van die laat jare sewentig se musiekherlewing in Afrikaans - die sogenaamde Luisterlied-beweging.
Hulle het Koos geken as joernalis en “sub” (subredakteur) in die nagkantoor van die destydse Pretoriase koerant, en die aanbieding speel dan ook af in die nagkantoor van so ’n dagblad.
Twee sangers wat bekendheid verwerf het met hulle weergawes van Koos du Plessis se liedjies, Mathys Roets en Jannie du Toit, span kragte saam in hierdie program, waarin ook twee akteurs, Marcel van Heerden en Eric Nobbs te sien is.
Saam met hulle is twee jong sangeresse: Charlene Truter, wat ook as Kaapse aanbiedster van Pasella naam gemaak het, en Yolandé Strauss, 2002 Crescendo-finalis uit Oudtshoorn.
Die musiekregie van die program word waargeneem deur die ervare Christa Steyn op die klavier met Susan Mouton (tjello), Mauritz Lotz (kitaar) en Matthys Maree (klawers) om haar by te staan.
More
News
|