Wingerdfees vir almal
2006-03-02
TOP kunstenaars gaan optree by die Paarl Wingerdfees wat môre en Saterdag in Faurestraat plaasvind.
Môreaand begin die vermaak om 15:45 met Amanda Luyt, gevolg deur Akkedis, Chereé, Bianca, Christo & Kobus, en Dozi (wat van 21:30 tot 23:10 aan die beurt is).
Kyk ook uit vir die twee puik seremoniemeesters: Vrydag is Pieter van Zyl van ‘Maak ’n Las’-faam daar en Saterdag is dit Zane Johnson van KFM.
Saterdag begin die vermaak om 10:45 met Skallabrak en sluit af met die Jesse Jordan Orkes, wat van 22:00 tot 23:30 sal optree.
Tussenin tree Arno Jordaan, Shine 4, Righty Retief & Alana, Anke, Gift, die Jakkie Louw Band, Thys die Bosveldklong en die Campbells op.
’n Gedeelte van Faurestraat sal gesluit word vir dié pretgeleentheid, met kosstalletjies en ’n kunsmark in die park en straat.
Wynlandgoedere sal stalletjies in die stadion hê. Daar sal ook ’n biertent en kroeg wees en ’n restaurant waar mense rustig kan kuier. Mense sal kan smul aan seekosse, calamari, biefstuk, pasta en vele meer.
Die fees sal Vrydag van 14:00 tot 23:00 oop wees en Saterdag van 10:00 tot 23:30.
Organiseerder Francois Smit het mense verseker dat daar streng sekuriteit sal wees.
“Kinders sal identifikasiebandjies dra en geen drank sal aan iemand onder 18 jaar verkoop word nie.
“Ons het ook gekontrakteerde sekuriteitsmaatskappye wat sal verseker dat enigeen wat hom aan wangedrag skuldig maak, onmiddellik verwyder sal word.”
Tydens die ‘Rock met die Wingerdstok’ sal daar ook geleentheid gegee word aan plaaslike sangers om hul talent ten toon te stel in ’n ‘Idols’-kompetisie.
Daar is drie kategorieë: laerskool, hoërskool en seniors. Die uitdunne vind Vrydag van 10:00 tot 18:00 plaas.
Die deelnemers wat deurdring tot die volgende rond te sal weer Saterdag van 12:00 tot 18:00 hul vernuf ten toon stel. Die drie wenners sal dan ook net voor die hoofkunstenaar Saterdagaand optree.
Kaartjies vir die fees (R70 per dag) is beskikbaar by die rugbyklub, Pêrel Sport (Mall) en Musiklood asook by die hek. Kaartjies vir kinders o.18 is R30.
Feesgangers word aangeraai om stoele of kussings saam te bring (program op bl 16).
* The Paarl Vineyard Festival will be resurrected this weekend in Faure Street.
More
News
|