Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Laat daar lig wees

Laat daar lig wees
 
2006-03-02


DIE kommer oor die kragtekort in die Wes-Kaap duur voort, en daar word nou gewaarsku dat verdere onderbrekings in die volgende paar maande, en selfs vir die volgende jaar kan voortduur.

Talle huiseienaars is dus besig om na alternatiewe moontlikhede te kyk, veral as onderbrekings in die koue wintermaande gaan plaasvind.

Verkope van kragopwekkers het die afgelope week skerp toegeneem, toe kragonderbrekings vir die tweede week voortgeduur het, en winkels het nie meer voorraad nie.

’n Plaaslike elektrisiën, Theo Joubert, het gesê dat hy reeds by verskeie woonhuise kragopwekkers geïnstalleer het.

“Die aanvraag na dié toerusting is so groot dat daar nou ’n driemaande-wagperiode is.”

’n Kragopwekker wat vir ’n basiese huishouding voldoende is, sal die verbruiker bykans R8000 uit die sak jaag en dan sal die installasie daarvan nog om en by R2000 kos.

Dit sal net genoeg wees om 'n geyser vir ’n paar uur per dag aan te skakel, ligte te laat brand, ’n stoofplaat of twee aan te skakel, ’n yskas aan die gang te hou asook ’n paar kragproppe vir byvoorbeeld televisie en ’n strykyster.

By Agri-mark in die Paarl is kragopwekkers wat reeds maande lank in dié winkel staan, uitverkoop.

Andries Schreuder van Agri-Mark het gesê dat hy nog nooit so iets beleef het nie.

Behalwe die aanvraag na kragopwekkers, vlieg al wat ’n kers, flits en gas-toerusting is, by die deur uit.

“Ek kry daagliks ontsaglik baie oproepe van mense wat wil hoor watter soort gas-bottel of kragopwekker hulle moet koop.

“My raad is dat jy eers by jou elektrisiën navraag moet doen oor watter kragopwekker jy moet aanskaf vir jou doeleindes, voordat jy dan by ons kom aanklop.”

Bestuurders by groot maatskappye is dit eens dat die installering van groot kragopwekkers om in hul kragbehoeftes te voorsien, hulle miljoene rand uit die sak gaan jaag.

Thea Blaauw by Westelike Skrynwerkers sê dat die kragonderbrekings hulle produksie nadelig beïnvloed.

“Ons reken dat ’n kragopwekker om in ons behoeftes van drie-fase krag te voorsien, die maatskappy sowat R200 000 gaan kos met installasie en bedryfskostes uitgesluit”.

Assistent-bestuurder Sandra Damonse by McDonalds restaurant sê dat die kragonderbreking hulle skedule heeltemal omvergooi.

Hulle spyskaart word vars voorsien op bestelling en bederfbare vleisprodukte in hul vrieskaste wat ontdooi, asook roomys, blaarslaai en tamaties, moet weggegooi word.

“Tot R140 000 se skade is gely. Die kragopwekker is slegs genoegsaam om die kasregisters te laat werk. Voorverlede Sondag en Maandag het ons nagenoeg R25 000 se skade gely.”

Volgens Oelof Dippenaar, bestuurder van Paarl MediClinic, is hulle heeltemal gereed om ’n kragonderbreking die hoof te bied. Hulle het ’n kragopwekker wat in al die pasiënte-behoeftes by die hospitaal kan voorsien, maar slegs noodgevalle word in die teater hanteer.

“Minder dringende operasies moet ongelukkig oorstaan tot die onderbreking verby is en mense moet nou lank wag vir geskeduleerde operasies.”

Media-skakelbeampte Leon Cronjé by Pioneer Foods sê dat ’n kragopwekker beskikbaar is by hul koöperatiewe hoofkantoor. Hulle ondersoek nog die kostes van kragopwekkers vir produksieprosesse.

By die Paarl Post is daar ’n kragopwekker vir die rekenaars, maar nie vir die rolperse nie.

Volgens bestuurder Conrad Rademeyer word daar beslis gekyk na die installering van ’n kragopwekker.

“Dit sal sowat R1 miljoen rand kos met die installeringskoste en onderhoudskoste ingereken. Dan moet daar ook ’n dieseltenk geïnstalleer word vir brandstof.”

Kragverbruik kan in spitstyd beperk word deur die massa-afskakeling van warmwatersilinders met ’n radiosein. Eskom is tans besig om ’n so projek in Drakenstein te loods.

Huiseienaars kan krag spaar deur kragbesparende gloeilampies te gebruik, en installasie van sonkrag vir waterverhitting.

* Power generators and gas equipment are selling out fast due to the wide-spread power blackouts.



More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za