Hugo maak debuut vir Kavaliers
2006-03-02
DIE Paarlse vleuel, Alvin Hugo, sal môreaand op Welkom sy debuut vir die Boland Kavaliers maak.
Hugo, wat verlede jaar nog vir Albions Rugbyklub in die Paarl gespeel het, het die oog gevang toe hy in beide die WP Amateur en Springbok Amateur-spanne opgeneem is.
Hy het ’n kniebesering in die Kavaliers se opwarmingswedstryd teen die WP ’n paar weke gelede opgedoen, maar is nou weer fiks.
Hugo is die enigste speler in die Kavalier-groep wat nie gekontrakteer is nie.
’n Goeie vertoning dié naweek kan egter beteken dat Boland Rugby reeds volgende week vir hom ’n aanbod kan maak.
Die Kavaliers speel die Griffons môreaand en sal gretig wees om weer ’n sege agter hul naam te kan skryf, ná hul 30-17 nederlaag teen die Pumas voorverlede week.
Deon Davids en sy afrigtingspan het besluit om terug te val op die ervaring van die senterpaar, Piet van Zyl en Jacques Badenhorst wat vir Kobus Meintjies en Claude Arendse vervang.
Hugo vervang vir Louw Schabord, terwyl Antonius Verhoeven in die plek van die beseerde losskakel, Solly Goosen, sal speel. Charl Blom kry ’n ruskans op die plaasvervangerbank, met Neil Papier wat in die beginspan ingesluit is.
Tommy Dixon is in die aanvanklike span ingesluit, maar nadat ’n nek-spasma wat hy al geruime tyd mee sukkel tydens Dinsdagaand se skrum-sessie vererger is, is besluit om hom met Koos Westraadt te vervang.
More
News
|