Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Lizz betower in Paarl

Lizz betower in Paarl
 
2006-03-09


DIE bekende Lizz Meiring glo ’n opvoering moet soos Kersfees wees - jy weet jy gaan iets lekker kry, maar jy weet nie wat die verassings gaan wees nie.

“Elke Ander Duim ’n Dame”, wat môreaand om 20:00 in die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl opgevoer word, is só ’n stuk.
Dit is die eerste keer dat ’n toneelstuk in die Taalmonument opgevoer word.

Die stuk is ’n visuele en verbale fees, waarin Meiring die heerlike eksentrisiteite van die moderne Suid-Afrikaanse vroue en mans vertel, vier en satiriseer.

Dis ’n huldeblyk aan die ongewone streep wat in ons almal skuil.
Lizz sê sy is moeg daarvoor dat veral Afrikaanse gehore onderskat word, daarom is hierdie teater met ontspanning en pitkos.

Die titel verwys na ’n “dame “, maar die produksie is beslis nie net vir vroue nie.

“Dwing jou man saam - hy gaan dit geniet, ten spyte van sy voorneme om dikbek daar te sit en sug.

“Sleep jou bejaarde ouers by, daar’s niks om te skok of voor te skrik nie... net oorspronklike temas, astrante humor en afdraaipad-wyshede.

“Trek sommer jou kultuurdier-tiener of studentespruit nader (hulle’s baie meer gesofistikeerd en ingelig as wat jy dink!) en as jou dierbare skoothondjie nie gaan blaf vir die vyfvoet gediertetjie op die verhoog nie, is dié ook welkom.”

Lizz weet nie of sy aldag self “elke ander duim” ’n dame is nie, maar dat sy elke duim ’n aktrise is, is nie altemit nie.

Die produksie is nommerpas vermaak vir diegene wat slim woordspelings, donker satire en gesofistikeerde humor geniet.

Met ’n aantal sketse speel Meiring ’n versameling aweregse, buitengewone en tog totaal identifiseerbare karakters. Hulle is komies en interessant op ’n eerste vlak, donker en satiries op ’n tweede vlak.

Daar is die vroueklub Jong Dames Sianied, wat hul wilde innerlike self ontdek, ’n dronk en mismoedige Cupido, ’n neo-politiese kinderstorie, die charismatiese koper, ’n oënskynlik normale huisvrou met ’n tango-fetish en ’n kunstenaar met ’n passie vir ongewone kunsmateriale.

Kaartjies vir die Paarl opvoering is R100 en R130 (voor) by Miro, Hoofstraat 183 (tel 872-4323). Stoele word verskaf.

Die hekke open om 18:30 vir die piekniek. Bespreek by die restaurant (863-2800) of bring u eie piekniek. Wyn is per glas te koop.



More News

 
    [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za