George is feeskunstenaar
2006-03-09
'n BESOEK aan 'n kunsgalery in Darling deur die Stellenbosse Woordfees feesdirekteur het vir die Wellingtonse kunstenaar George Meyer 'n nuwe titel besorg - dié van feeskunstenaar.
Hy is genader om as vanjaar se feeskunstenaar op te tree, nadat feesdirekteur dr Dorothea van Zyl een van sy veelkleurige werke in dié Swartlandse dorp gesien en gekoop het met die fees in gedagte.
Dié akrielverfskildery, wat ‘n plaastoneel waarin 'n man sit en fluit speel uitbeeld, pryk nou op die webwerf www.woordfees.co.za, asook al die plakkate en reklamemateriaal waardeur die sewende Woordfees geadverteer word.
Dit pas goed aan by die feesslagspreek “Fluit-fluit, dis storietyd”, wat die feestema “Stories” uitlig.
Die Woordfees vind plaas tot Sondag op Stellenbosch, en sluit talle drama- en musiekproduksies, asook kunsuitstallings en literêre praatjies en diskoerse in.
George se solo-uitstalling van sowat 20 werke sal Saterdag van 09:00 tot 20:00 in die voorportaal van die HB Thom teater op Stellenbosch te sien wees. Van die werke sal ook te koop aangebied word.
George bly reeds sowat twee dekades op Wellington en is veral lief vir landelike tonele en die skets van plaaslike historiese geboue.
Sy skilderye met hul sterk kleure word al meer in kunsgalerye gesien in die Wes-Kaap gesien.
Een van sy werke het ook verlede jaar op Woolworths se reeks duursame plastieksakke gepryk.
* Onder die ander kunsuitstallings by vanjaar se Woordfees is 'n glaskunsuitstalling by die US Kunsgalery en 'n spesiale tentoonstelling van die werke van die gevierde Suid-Afrikaanse skilder Irma Stern in die US Sasol Kunsmuseum.
Paarliet Lara Kruger is een van nege beeldhouers, skilders, digters en juweliersontwerpers wat sal deelneem aan die uitstalling “1000 Woorde” gedurende die feesweek in die Dorpstraat Teaterkafee.
More
News
|