Munisipaliteit alweer vol verskonings
2006-03-09
EK verwys na die skrywe in die Paarl Post van 23 Februarie onder die opskrif, “Beplanning se dienslewering swak” en “Sonder krag en sonder water” van dieselfde uitgawe.
Die inwoners van Uitsig in Wellington het ‘n skrywe aan die Munisipaliteit gerig waarin hul ‘n lys van adresse aangedui het waar bouregulasies nie gevolg is nie en huise reeds tot so veel as vyf jaar onvoltooid staan.
Hierdie brief is reeds in November verskeie male deurgegee aan die munisipaliteit, die departement beplanning en die munisipale bestuurder.
Die proses wat deurgegaan moes word net om hierdie skrywe onder hul aandag te bring, was genoeg om ‘n mens tot raserny te dryf. In stede van die oortreders aan te spreek volgens die bouregulasies, is die skrywer wat namens die inwoners die brief voorberei en gestuur het, se identiteit aan die oortreders bekend gemaak.
Die gevolg was ‘n dreigbrief van een van die oortreders aan die skrywer.
Dit het tyd geraak dat inwoners ophou om die verskoning van “dit is nou die Nuwe Suid-Afrika” as rede te gee om te oortree.
Hou by bouregulasies en munisipale reëls en dit sal nie nodig wees om regstappe te neem nie.
Die Munisipaliteit moet ook ophou om verskonings te gee vir swak dienslewering - belastingbetalers is gewillig om te betaal vir dienste, maar swak dienste vol verskonings gaan wanbetaling aanmoedig.
Raad-op
Die munisipale woordvoerder reageer as volg: Die skrywer se identiteit is nie deur die munisipaliteit aan “oortreders” voorsien nie. Aanmaningsbriewe word direk in die naam van die Boubeheerseksie aan “oortreders” bedien.
More
News
|