Burgemeester het verkeerd opgetree
2006-03-09
EK kon nie help om wrang te glimlag oor die Burgemeester se optrede teenoor tannie Bokkie Claasen nie.
Burgemeester Herman Bailey het in sy hele politieke verblyf in die geledere van die NNP nooit ’n enkele posisie in die plaaslike demokraties verkose besture van die party beklee nie.
En toe hy oorloop na die ANC, het tannie Bokkie Claasen getrou gebly aan haar politieke oortuigings en die beginsels van ’n party wat sy tot die bitter einde sou dien.
Nadat al haar vroeëre politieke leiers haar in die steek gelaat het, word sy deur ’n NNP- oorloper ANC-burgemeester geskors uit sy Uitvoerende Komitee omdat sy kwansuis nie getrou was aan die ooreenkoms met die party wat hy versaak het nie. Slaan my dood!
Oud-NNPlid
Herman Bailey reageer: Ek het feitlik my hele loopbaan in plaaslike regering buite die partypolitiek bedryf.
Dit was slegs die laaste min of meer twee en ’n half jaar dat die aard van plaaslike regering so verander het dat dit byna onmoontlik geraak het om buite partyverband ’n rol te speel in plaaslike regering.
Wat Raadslid Claasen betref, was dit nie my keuse nie, maar dié van die provinsiale politieke leierskap van die NNP wat geoordeel het dat sy die ooreenkoms tussen die NNP en die ANC verbreek het en vir daardie rede uit die Burgemeesterskomitee onttrek moes word.
Daar is met die tussenverkiesing in Wyk 27 verlede jaar, toe raadslid Claasen vir die United Party of SA (UPSA) stemwerwing gedoen het en op verkiesingsdag agter ’n UPSA tafel diens gedoen het, reeds gepoog om haar uit die BK te onttrek.
Deur my ingrype is die poging laat vaar en is sy toegelaat om aan te bly. Daar was by my persoonlik geen aksie om van haar ontslae te raak nie.
Die feit dat sy in die openbaar bekend gemaak het dat sy haar vir vanjaar se verkiesing by die DA gaan skaar, het daartoe aanleiding gegee dat senior politici uiteindelik ’n opdrag gegee het dat sy uit die BK onttrek moes word en as gewone lid die termyn moet klaarmaak.
More
News
|