Tydrenmotors jaag weer op Paarlberg
2005-04-07
DIE hange van die Paarlberg sal weer weergalm met klank van turbo-aangedrewe enjins wanneer die Toyota Dealer tydren môre in die Paarl plaasvind.
Dit is die tweede been van die Nasionale Kampioenskappe en word deur die Somerset-Wes Motorklub gereël.
Die tydren bestaan uit 12 sneldele, waarvan vier môre sal plaasvind.
Die eerste motor sal reeds teen 13:30 op die bekende Paarlrots sy verskyning maak. Dié snelskof begin by die Jan Philips-bergpadingang in Noorder-Paarl en eindig by die Taalmonument. Die beste uitkykpunt vir toeskouers sal by die Victoria-dam T-aansluiting wees.
Die laaste snelskof sal later die middag om 17:30 op Killarney gehou word. Die oorblywende sneldele vind Saterdag in die Grabouw omgewing plaas.
As die Natal Tydren enigsins ’n voorsmaak was van wat tydren-entoesiaste môre te wagte kan wees, dan gaan Serge Damseaux en Robert Paisley in hul Team Castrol Toyota RunX RSi hulle hande vol hę met die Mitsubishi-jaers.
Damseaux en Paisley het die eerste twee sneldele oorheers, maar moes tou-opgooi weens meganiese probleme.
Johnny Gemmell en Martie Olivier, Fernando Rueda en Martin Botha asook Richard Behm en Grant St Clair sal die grootse bedreiging inhou vir die Damseaux/Paisley jaagpaar.
Damseaux jaag vanjaar om sy 11de nasionale titel in te palm om sodoende die rekord van 10 titels van Sarel van der Merwe te klop.
Toyota jaag hulle 14de Handelaars-titel na, so die druk op die laasgenoemde span en hul jaers is hewig.
Die plaaslike ryers Charl Strydom en Sakkie Bosman sal ook in aksie wees.
More
News
|