Gim speel gasheer vir tennis-meisies
2006-03-09
DIE Hoërskool Paarl Gimnasium speel dié naweek gasheer vir die meisie-afdeling van die Gerrie Berner Hoërskole Uitdaagtoernooi.
Dit is die eerste keer dat dié toernooi aangebied word en wedstryde sal by die bane van Paarl Gim, Boland Landbou en Wellington Tennisklub gespeel word.
Die toernooi sal gepaard gaan met die amptelike opening en ingebruikneming van die Evansa Hugo Tennisarena.
Agt spanne wat Paarl Gim, Bloemhof (Stellenbosch), Oranje Meisieskool (Bloemfontein), Eunice Girls’ High (Bloemfontein), Hoërskool Stellenbosch, Hoërskool Cradock, Hoërskool Hermanus en Hoër Meisieskool Paarl insluit, sal om die Evansa Hugo Wisseltrofee deelneem.
Paarl Gim se meisies is agtste op die ranglys, met HMS in die sesde posisie. Bloemhof is die gunsteling .
Die spanne van Bloemhof en Oranje oorheers die afgelope paar jaar meisiestennis en dit sal interessant wees om te sien wie die eerste Gerrie Berner-toernooi in die Paarl kan wen.
Behalwe vir die wennerstrofee, ding die spanne ook mee om die Paarl Gimnasium Wisseltrofee wat aan die naaswenners oorhandig sal word.
Die toernooi begin reeds vandag om 09:00 met die eindstryde wat Saterdag gespeel sal word.
Die program vir die eerste drie uitkloprondes waarin die twee plaaslike spanne speel, is (vandag 09:00) Gim teen Cradock (by Paarl Gim), HMS Paarl t Stellenbosch (by Boland Landbou), (vandag 14:00) Hermanus t HMS Paarl (by Paarl Gim), Gim t Eunice (by Wellington Tennisklub), (môre 09:00) Gim t Bloemhof (Paarl Gim), HMS t Oranje (Boland Landbou).
More
News
|