Elke druppel water tel
2006-03-16
WATERWEEK word volgende week gevier en ‘n eiesoortige waterweek-uitstalling, aangebied deur die Drakenstein Munisipaliteit sal by die Paarl Mall-winkelsentrum te sien wees van Maandag tot Sondag 26 Maart.
“Water is ons skaarsste natuurlike hulpbron, een wat kan opraak indien dit nie doeltreffend bestuur word nie," sę Harold Hendrikse, assistent-tegnikus by die Drakenstein munisipaliteit se Waterwerke afdeling.
“Ons land se waterwette is baie modern en daarvolgens moet water volhoubaar, regverdig en doeltreffend gebruik word.”
Volgens Hendrikse lę die grootste probleem by doeltreffende waterverbruik en die uitstalling wil juis ‘n groter bewustheid hieroor onder die gemeenskap kweek.
Die uitstalling beloof om baie maniere te wys hoe landsburgers verantwoordelik met water kan omgaan om spreekwoordelik kop bo water te hou.
‘n Plant-uitstalling waar besoekers touwys gemaak sal word in droogtebestande tuinplante en ‘n uitstalling van ekologies-vriendelike rio-leringstelsels om omgewingsbesoedeling ‘n kishou te gee, asook toebehore soos stortkoppe wat beloof om sagkens met ons skaars hulpbron te werk, is maar enkele van die interessanthede waarna besoekers kan uitsien.
Vindingryke planne soos om afloogwater uit die bad na jou tuin te kanaliseer, sal tydens inligtingspraatjies bespreek word terwyl die outydse windmeul en “betowerde” glaskraan beloof om die jongklomp te laat terugkom vir nog.
Die bewuswordingsweek is ‘n broodnodige veldtog aangesien die internasionale bewaringsorganisasie, WWF, raam dat Suid-Afrika teen 2025 te min water sal hę vir die groeiende bevolking.
VoIgens Hendrikse groei die bevolking in die Drakenstein gebied met tot 2,4 persent per jaar.
“Die toestroming plaas druk op verouderde infrastruktuur en ons sukkel om in die toenemende behoefte aan rioolstelsels en watersuiweringsaanlegte te voorsien.
“Riool word in riviere gestort, maar daar is eenvoudig nie genoeg water in die land om aan almal spoeltoilette te verskaf nie. Alternatiewe metodes van sanitasie moet gebruik word en ons wil vir die gemeenskap wys hoe," sę Hendrikse.
“Intussen het ons ‘n grootse poging van almal nodig om mense bewus te maak dat elke druppel tel.”
Behalwe hierdie uitstalling het die Dra-kenstein munisipaliteit reeds programme by 18 skole in die omgewing begin implementeer om kinders waterslim te maak.
More
News
|