Groot hoogtes vir model-loodse
2006-03-16
VIER vlieëniers van die Paarl het die naweek groot hoogtes bereik tydens die Suid-Afrikaanse Modelvliegtuig Vereniging se kunsvliegkampioenskap wat by die Helderberg Vliegklub gehou is.
Dit is ’n eerste keer dat dié streek kan spog met die eerste vier plekke in die SA Sportsmen kunsvliegklas.
Wat die prestasie nog meer besonders maak, is die feit dat die eerste drie plekke beklee word deur jongelinge wat almal leerders van Hoër Jongenskool Paarl is.
Die kompetisie is gewen deur Petru van der Westhuizen gevolg deur Divan de Kock en Eduard Kieser in die derde plek. Aldrie is in graad 10 by HJS Paarl.
Petru en Divan het die Tygerberg Vliegklub (TRF) verteenwoordig en Eduard en Werner Mayer, wat vierde gekom het, het die Boland Vliegklub (BOMAC) verteenwoordig.
Mayer het ook ’n vierde plek behaal in die afdeling vir grootskaal-vliegtuie.
Klubs van regoor die Wes-Kaap het 27 afgevaardigdes gestuur om aan vier verskillende kunsvlieg-dissiplines deel te neem.
Die deelnemers het gewissel in ouderdomme van 15 jaar tot 66 jaar oud.
Die jongelinge het behoorlik stof in die oë van die ouer deelnemers geskop en die beoordelaars het ’n moeilike taak gehad om die eerste drie plekke aan te wys in die SA Sportsmen klas.
Dié klas bestaan uit 10 oefeninge wat oor vier rondes versprei en oor twee dae beslis word. Vlieëniers moet uiters presies wees en kwaai konsentreer om hier uit te blink.
Die kompetisie was bemoeilik deur ’n sterk dwarswind wat op die tweede dag ongunstige vliegtoestande tot gevolg gehad het.
Aldrie Boishaaiers sal later vanjaar aan die SA Meesters kompetisie deelneem.
More
News
|