Nuwe stadsraad sit vandag
2006-03-16
DAAR is groot belangstelling in die eerste vergadering van die munisipale raad van Drakenstein vanmiddag om 17:00 ná die plaaslike verkiesing op 1 Maart. Die vergadering was aanvanklik vir Maandag geskeduleer, maar weens onderhandelinge tussen die verskillende partye in die raad is dit tot vandag uitgestel.
Vanmiddag sal al 61 raadslede, dié wat in wyke verkies is én die wat proporsioneel aangewys is, tydens ’n spesiale raadsvergadering in die Paarlse stadsaal byeenkom om onder meer ’n burgemeester, onderburgemeester en speaker te kies.
Volgens die agenda van dié vergadering sal sowel die burgemeesterskomitee as ander komitees van die raad aangewys word.
Sewe lede sal ook tot die Wynland Distriksmunisipaliteit verkies word.
Al dié verkiesings sal deur die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) behartig word.
Hoewel die vergadering vir 17:00 geskeduleer is, sal die vooraf-program reeds om 16:45 ’n aanvang neem in die Paarl Stadsaal.
Die munisipale bestuurder, dr Sidima Kabanyane, sal almal verwelkom, waarna ds Abe Maart van die Bethel Congregational Church ’n gebed sal doen.
Hierna sal die uittredende uitvoerende burgemeester, raadsheer Herman Bailey, aan die woord kom.
Net voor die aanvang van die raadsvergadering om 17:00 sal die gehoor saam met die koor van Mbekweni Laerskool die volkslied sing.
Lede van die publiek is genooi om die spesiale raadsvergadering by te woon en kan die verrigtinge vanaf die galery volg.
* The Drakenstein municipal council meets at 17:00 today to elect a mayor.
More
News
|