Seun vermoor R5
2006-03-16
’n Agttienjarige jongman is doodgesteek tydens ’n rusie oor dobbelgeld.
Wayne Stoffels het Saterdagmiddag in Chicago saam met twee ander vriende op die sypaadjie dobbel-speletjies gespeel.
’n Rusie het losgebars tussen Wayne en Lee-Curt Claasen (18) oor wie die ronde van R5 gewen het.
Lee-Curt het ’n mes uitgehaal en vir Wayne in die hart gesteek.
Wayne is kort hierna dood, en Lee-Curt is vir sy moord in hegtenis geneem.
* Die lyk van ’n man is Sondagoggend op die meent tussen Turk- en Pinestraat gevind.
Jacob Mbuyazi (28), ’n tuinier van Waltham Crossstraat, is drie keer in die bors gesteek met ’n skerp voorwerp.
Hy het na bewering Saterdagaand saam met vriende by die Internasional hotel in Stasiestraat gekuier.
Kort nà middernag het hy die hotel verlaat met ’n onbekende vrou.
Sy vriende het hom later gaan soek, maar kon hom nie vind nie. Sondagoggend is sy lyk op die meent ontdek en na verdere ondersoek is daar vasgestel dat sy drafskoene en selfoon gesteel is.
Enigiemand met inligting oor die voorval kan vir insp Cathy Korff skakel by 807-4000.
* In Franschhoek is ’n negentienjarige man doodgesteek tydens ’n rusie met ’n kennis.
Jack Jooste van Mooiwater is in die nek gesteek en is weens bloedverlies dood.
’n Man is in hegtenis geneem, in verband met die voorval.
More
News
|