Burgemeester vanaand aangewys
2006-03-16
VANMIDDAG behoort die politieke bestel van Drakenstein vir die afsienbare toekoms bepaal te word.
Dit is wanneer die nuwe stadsraad vir die eerste keer sit en die 61 nuutverkose raadslede moet besluit oor die samestelling van die uitvoerende komitee, asook die verteenwoordigers op die distriksraad.
Die vergadering, wat reeds Maandag sou plaasvind, is uitgestel om politieke partye geleentheid te gee vir onderhandelinge.
En onderhandel is daar onderhandel: geheime samesprekings, “verkennende gesprekke” en haastige gekoukus met provinsiale en nasionale partystrukture, was reeds die afgelope week aan die orde van die dag.
Die probleem is natuurlik dat geen party ’n algehele meerderheid in die Raad het nie. Hiervoor het ’n party 31 van die 61 setels nodig.
Op die oomblik het die ANC 26, die DA 20, die OD 10, die WCC 2 en die FD, ACDP en VFPlus 1 elk.
Dit beteken dat partye na alliansies en koalisies sal moet kyk om beheer te kan oorneem.
Die twee groot partye in die raad, ANC en DA, is die ooglopende keuses om hier die leiding te neem.
Hoewel geen moontlikhede buite rekening gelaat kan word nie, is samewerking tussen dié twee partye waarskynlik baie laag op hul agendas.
Albei sal eerder op hul eie probeer om beheer oor te neem.
Op die oog af wil dit voorkom of die ANC dit redelik maklik sal regkry, hulle het immers net vyf bykomende stemme nodig, maar dit is nie so eenvoudig nie.
Laat vir ’n oomblik die OD buite rekening, aangesien leier Patricia de Lille nog steeds nie haar voorkeure wil verklap nie.
Dit is onwaarskynlik dat die VF+ (1) met die ANC sal saamwerk, of selfs die WCC (2), wat reeds ’n splintergroep van die ANC is. Dit laat net twee van die kleiner partye oor (die ACDP en die FD), wat een setel elk het.
Ook die DA sit met ’n tameletjie: al kry hulle die steun van al vier die klein partye, het hulle nog steeds net 25 setels.
Alles kom dus terug na die OD. Volgens ingeligte bronne het sowel die ANC as die DA sekere aanbiedinge aan hulle gemaak en daar word nou fyn daarna gekyk.
Hoewel De Lille nie haar steun aan enige party wil toesê nie, is dit duidelik dat sy haar laat lei daar haar verkose raadslede.
In Drakenstein lyk dit asof die OD-kiesers se empatie by die DA-groepering lê.
Intussen is daar ook gerugte dat sy ontevrede is met van die ID-lede op die proporsionele lys in Drakenstein en van hulle probeer ontslae raak, wat natuurlik ook die party se bedingingsmag in vanmiddag se vergadering nadelig kan beïnvloed.
Enige verandering op die lys as gevolg van skorsings of bedankings moet eers deur die OVK goedgekeur word, wat tot twee weke kan duur.
Net in ’n geval waar ’n proporsionele kandidaat in ’n wyk verkies is, mag die lys aangepas word met onmiddellike inwerkingstelling.
Die OD het natuurlik van dag een af sake deurmekaar gekrap in Drakenstein. Volgens die uitslae het hulle veral in die sogenaamde bruin wyke goed gevaar.
In Paarl-Wes en Wellington-Oos is dit duidelik dat die DA stemme verloor het aan die ID en die ACDP, maar nie genoeg om die ANC te laat wen nie.
In Paarl-Oos en Wellington-Suid het hulle egter die DA baie seer gemaak - dikwels tot voordeel van die ANC.
In een geval, in Wyk 7, het Claud Julies van die ID selfs daarin geslaag om die ANC-raadslid, Anna Langeveld, uit die kussings te lig. Dit wil voorkom of hulle hier die ou NNP-stemme getrek het.
Dit is belangrik dat leiers hierdie tendense in ag moet neem wanneer daar besluit word oor samewerking - per slot van rekening reflekteer dit tog die kieserspubliek se mening.
Nuwe raadslede wat onseker voel oor hul leiers se moontlike besluite, meen hulle het nog steeds die hef in die hand: enige ongewilde besluit van bo af, kan met die oorloopperiode in September 2007 reggestel word deur die voetsoldate in die Raad.
Dit mag dus voordelig wees vir leiers om liewer nou reeds kennis te neem van kiesers se sentimente, as om ná die oorloop met hul hande in die hare te sit.
Hoewel die hoofstrome nog steeds dieselfde is, is daar tog nuanses waarop gelet moet word.
Die ANC het, soos verwag, koning gekraai in Mbekweni, maar hulle sal ’n fyn oog moet hou op die WCC.
Die IVP het nie in hierdie verkiesing gestaan nie, maar die PAC en UDM het wel kandidate gestel en mag vorentoe steun trek.
Die WCC het ook redelik goed gedoen in die landelike wyke en hoewel hulle nêrens ’n wyk kon wen nie, was hulle steun genoeg vir twee proporsionele stemme.
Die ACDP het in die meer konserwatiewe wyke steun gewen, terwyl dit lyk asof die OD veral in Paarl-Wes punte gewen het onder meer liberale kiesers.
Die skrif is ook duidelik aan die muur vir onafhanklike kandidate.
Raadsheer André van der Spuy de Villiers het aanvanklik onafhanklik gestaan en later vanuit die NNP-stal in die DA-koalisie beland.
Toe die koalisie-lede in 2003 uit die bed val, is hy terug onder die NNP vaandel en hier het hy gebly, en die ANC- burgemeesterskomitee gehaal met die samesmelting tussen die NNP en die ANC.
Toe die laaste verkiesing aangekondig is, het hy besluit om onafhanklik te staan en wel in sy ou jagveld, Wyk 4 in Paarl-Wes.
Hy het egter in die stof gebyt met 534 stemme teen Rassie van Zyl (DA) se 1407.
Uit die getalle op die proporsionele stembrief is dit duidelik dat enige steun wat De Villiers persoonlik in die wyk gekry het, terug is na die DA-kamp.
In die geval van Vuyiswa Moko in Wyk 12, Mbekweni, is haar betekenisvolle steun (611 teenoor Kapa Xhaso se 1515) ’n duidelik wegbreek van die ANC.
Op die proporsionele lys het hierdie stemme meestal aan die WCC gegaan.
* The office bearers of Drakenstein municipal council will be determined during voting tonight in the Paarl town hall.
More
News
|