Pippa hoor nou in `stereo'
2005-04-07
“EK gaan speel”, is die woorde wat jy hoor as jy met Pippa van Heerden (2) praat.
Pippa is een van slegs vyf mense in die land wat ‘n suksesvolle tweede kogliêre inplanting ontvang het om haar gehoor te verbeter. Nadat Paarl Post vroeër oor Pippa geskryf het, het sy op 30 Augustus ‘n linkeroor-inplanting gekry wat maak dat sy nou in “stereo” kan hoor.
Pippa het ‘n paar maande ná haar geboorte siek geword en daarna haar gehoor verloor. Sy het ‘n eerste kogliêre inplanting gekry op nege maande.
“Dit is ‘n duur en lang operasie wat ongeveer vier ure duur en ‘n mens het maar vrese,” sê haar ma, Nelleke van Heerden, van die delikate operasie.
“Maar met die hulp van vriende en die ondersteuning en gebede van mense het ons daardeur gekom.”
“Ons bid en sê maar net dankie dat ons ‘spesiale kindjie’ nou soveel beter kan hoor.”
Pippa gesels nou land en sand soos enige ander horende persoon. Die swaarste na die operasie was die leerproses, nie net vir Pippa nie, maar ook vir haar ouers.
Hulle moes elke woord noukeurig uitspreek sodat Pippa presies kon weet wat hulle sê.
Daar moes klanke geoefen word en aanhoudend gepraat word sodat sy kon leer om die klanke wat die apparaat optel, te interpreteer as geluid.
Dit het van die klein dogtertjie groot konsentrasie geverg om tussen die verwarrende geluide te onderskei.
Die grootste hulp het ook gekom vanaf Ronel van Coller, nog ‘n Paarliet wat ‘n jaar gelede haar tweede “oor” gekry het.
Met haar goeie luistervermoeë en haar eie ervaring was sy vir die gesin ‘n steunpilaar.
Pippa is tans ingeskryf by die Carel du Toit-sentrum in Bellville vir gehoorgestremdes waar sy baie goed aanpas.
Nie net is sy vol energie nie, maar die onderwysers is gaande oor haar. Sy het baie maatjies en sosialisering is nie vir haar ‘n probleem nie.
Wanneer sy sewe jaar oud word, hoop haar ouers dat sy so goed sal gevorder het, dat sy na ‘n gewone skool sal kan gaan.
Indien haar krulhare los hang, kan ‘n mens glad nie die apparaat agter haar oor sien nie.
Die enigste probleem is die batterye wat elke tweede dag vervang moet word. Aangesien die apparaat baie klein is, kos dit baie aandag om toe te sien dat Pippa dit nie stamp of daarmee val nie.
Pippa het nou self ‘n bababoetie ryker geword, en is nie die enigste een wat baie aandag nodig het nie.
Verder kry sy baie liefde van haar ouer boetie Emile (4) en suster Helma (5).
* A Paarl toddler is one of only five South Africans with cochlear implants in both ears.
More
News
|