Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Kragtekort slaan hard

Kragtekort slaan hard
 
2006-03-16


DIE kragonderbrekings wat die Wes-Kaap die afgelope weke teister, se nadelige rimpeleffek in die ekonomie word nou gevoel op verskeie produksieterreine.

By wynkelders het kragonderbrekings koste-implikasies. Druiwe wat te lank in die son staan, moet afgekoel word, wat insetkostes verhoog.

Boland keldermeester Altus le Roux sê dat die grootste kragonderbrekingseffek op wit wyne is. Die druiwe is baie sensitief en verkoeling is noodsaaklik.

“Die grootste probleem is egter dat ons nie die oes kan inkry nie omdat die masjiene staan. Skade wat dit aanbetref is egter nog nie bereken in randwaarde nie,” het hy gesê.

Hulle het tans nie kragopwekkers nie, maar dit is op be-stelling en word eersdaags afgelewer teen ’n koste van R1 miljoen.

Met die goeie samewerking van die munisipaliteit is hulle kwaliteit egter nog nie nadelig beïnvloed nie.

Die kragonderbrekings het in die vrugtebedryf ook tot onderbrekings in die verkoelingsketting gelei wat produksiekoste affekteer.

Logistieke bestuurder by Colors Vrugte Uitvoerders, Charl Steenkamp, sê dat hulle administratief en logisties baie man-ure verloor. Indien rekenaars afgaan, loop hulle hele logistieke beplanning deurmekaar.

“Ons word genoodsaak om R500 000 se opgradering met kragopwekker-bystand te doen,” het hy bygevoeg.

Besturende direkteur Johan de Klerk het gesê dat hulle by Novo Pakhuis met die eerste onderbreking R15 000 aan pakhuistoerusting verloor het.

Hulle ly aan arbeids- en insetkoste, maar het gelukkig nog nie vrugte hoef weg te gooi nie.

“My groot bekommernis is dat ons nie kan pak nie. Die uitvoermark word geraak omdat die produkte laat op die mark gaan kom, wat die risiko van groter verliese verder vergroot. Dit was eers beskou as ’n krisis, maar as dit so aangaan, kan dit ontaard in ’n ramp,” het hy bygevoeg.

Agri Wes-Kaap se hoofuitvoerende beampte, Carl Opperman, het bevestig dat die Wes-Kaapse landboubedryf aansienlike verliese gely het as gevolg van die kragonderbrekings.

Dit beteken dat die produsent die verhoogde insetkoste sal moet absorbeer wat tot ’n afname in winsgrense sal lei.

“Die finansiële impak sal op ’n later stadium duidelik word, maar die verliese sal aansienlik wees,” het hy gesê.

Hy het verder gesê dat die verliese veral verband hou met produksie en produktiwiteit asook kwaliteit.

Verder kan water nie op tyd van die groter damme deur die besproeiingstelsels gepomp word nie, wat veroorsaak dat vrugteboorde, wingerde en ander besproeiingsoeste ’n waterskaarste ly.




More News
  • Manager did much good work
  • Zandwyk Park goes ahead
  • Rare wines hold their own at auction
  • Multiple awards for Grande Provence
  • Grondkundige kragte saamgespan
  • Fairtrade vloei suiwer by Bosmans
  • Sweet success for Nederburg
  • “TERROIRIST” at Nederburg Auction
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za