Boland-atlete wen meeste medaljes
2006-03-16
DIE Boland-span het Saterdag die WP met ’n kort kop geklop in die medalje-jaagtog tydens die Wes-Kaapse Hoërskole Baan- en Veldkampioenskappe wat op die De Jager Stadion in Oudsthoorn gehou is.
Die spanne van Boland, WP en SWD het teen mekaar deelgeneem as laaste voorbereiding vir die SA Kampioenskappe wat van 31 Maart tot 1 April in Sasolburg plaasvind.
Die Wes-Kaapse Kampioenskappe was gekenmerk deur uitstekende prestasies met meer as 70% van die atlete se prestasies wat meer as 800 punte op die Atletiek Prestasie Evalueringstabelle (APE) behaal het.
Sewentien Bolanders se prestasies was hoër as 1000 punte op dié tabelle.
Die Boland het ’n totaal van 122 medaljes ingepalm teenoor die 118 van die WP en 48 van SWD.
Plaaslike atlete wat uitgeblink het, is HJS se Keenan Watson (vs s.19 7,56m), Ferney Kitshoff (sg s.19 70,14m) van Paarl Gimnasium en Jo-Ann Williams (5000mS m.17 30:18) van Paarl Atletiekklub.
Die SA byeenkoms sal die laaste voorbereiding wees vir die atlete voor die SA Jeug en Junior Kampioenskappe wat in April in Pretoria gehou word.
Atlete wat hier uitblink, sal kwalifiseer vir die SA Junior Span wat aan die Wêreld Junior Kampioenskappe in China gaan deelneem.
More
News
|