Nokwe weer by Stormers
2006-03-16
DIE rugbyspan van die Fidentia Boland Kavaliers sal sonder sy linkervleuel Jongikhaya Nokwe moet klaarkom vir Saterdag se Vodacom-beker wedstryd teen die Oostelike Provinsie op Despatch.
Nokwe het verlede Saterdag op Wellington twee keer vir die Kavaliers gedruk in hul Vodacom-beker wedstryd teen die SWD-Arende.
Ricardo Pietersen sal Nokwe in die Bolandspan vervang.
Dit is ’n egter groot terugslag vir die Boland wat in dié stadium spelers van Nokwe se kaliber nodig het om ’n plek in die Top-8 van die Currie bekerreeks te verseker.
Ná Saterdag se 'oefen-lopie' teen die Arende, waartydens die Boland 10 drieë ingeryg het, kan die Kavaliers nie bekostig om op sy louere te rus nie.
Hulle het weliswaar met ’n reuse-oorwinning van 76-22 weggestap, maar sal op hul hoede moet bly.
Die Kavaliers se stelskopper, Justin Peach, kon nie ’n voet verkeerd sit nie en het die wedstryd met 36 punte afgesluit wat sewe doelskoppe, vier strafskoppe en twee drieë ingesluit het.
Hopelik sal sy skopskoen hom nie gou weer in die steek laat nie, ná ’n paar wisselvallige vertonings dié seisoen.
Die Olifante is geensins ’n maklike span om in sy agterplaas die stryd aan te sê nie en die span is daarvoor bekend om met tye te verras.
Die wedloop om ’n plek in die Top-8 van die Curriebeker-kompetisie los te slaan druk die skaal effe in die guns van die Kavaliers.
Tans is die OP (11 punte) ’n enkele punt voor die Boland (10) met een wedstryd meer op sy kerfstok.
More
News
|