Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Donkie vier 15 jaar

Donkie vier 15 jaar
 
2006-03-23


DIE Rappin’ Donkey projek is vanjaar 15 jaar oud en Ameen Levy voel dit het nou tyd geword om uit die ateljee te kom en na die mense toe te gaan.

“Ek het my fans belowe ek sal die show na al die klein dorpies neem en dit is wat nou gebeur,” vertel hy.

Die eerste konsert is Woensdag op Riebeek-Kasteel, met busse wat mense uit Klapmuts, Paarl, Philadelphia en Moorreesburg na die konsert neem.

Die Rappin’ Donkey-projek is in Maart 1991 gebore, by die Rockets se ateljee in Elsiesrivier.

Ameen was daar, saam met Molly Barron en Jerrie Watt, wat vandag nog die produksieleier is van die al die Rappin’ Donkey CD’s.

Mark Esau, die eienaar van die destydse nagklub Tiffany’s, en Abie Geldenhuys, sakeman van die Paarl, het betaal vir die eerste CD.

“Destyds het mense vir my gelag omdat ek Afrikaans gesing het - vir baie mense was dit ’n groot grap dat ’n bruin man in Afrikaans sing.

“Maar wat mense uit die oog verloor het, was dat Afrikaans die taal is wat die mense van die Boland in die townships praat. En dit is hier waar my CD’s die meeste verkoop.”

Ameen vertel hy was gelukkig genoeg om met sy eerste CD ’n trefferliedjie te hê, ‘Ons slaap vanaand by Heidi’.

“Ek het nooit in my wildste drome gedink dat ek eendag vyf CD’s op die mark sal hê nie,” glimlag hy en vertel dat sy musiek selfs in nagklubs in Engeland en Nederland gespeel word.

Maar hy het nog verder gegaan en vandag gee hy sy CD’s onder sy eie naam uit, met vyftien agente wat dit landwyd versprei.

“Toe ek destyds weggebreek het van die platemaatskappye af het almal gesê dis die einde van die Rappin’ Donkey,” lag hy en vertel dat hy intussen sy inkomste verdriedubbel het.

Die enigste is dat jy nie sy CD’s in platewinkels kry nie.

Dit het egter nie maklik gekom nie: “Die beginjare was baie swaar, want ’n bruin kunstenaar se kanse om êrens te kom, was nul.

“Nie dat dit vandag beter gaan nie, maar ek glo ek is gebore vir die musiekwêreld.”

En ná 32 jaar in die bedryf weet hy seker waarvan hy praat.
Ameen het ook bekendheid verwerf met sy program, die Rappin’ Donkey-show’, op Radio KC.

Sy Boeremusiekprogram geniet wye aanhang en wen steeds nuwe luisteraars vir die stasie.

Intussen is hy ook besig met ’n nuwe CD, die ‘Rappin Donkey Remix’, wat veral op die buitelandse mark gerig is.

As alles goed verloop, behoort die CD voor die einde van die jaar op die rakke te wees.

“Maar ek het nog ’n droom en dit is om ons plaaslike en Bolandse kunstenaars te help om hulle drome ook te verwesenlik.”

Dit doen hy reeds met al die vertonings waar hy dié kunstenaars ’n kans in die kollig gee.

Maar hy het ook ander, groot planne: “Ek en my borge is hard besig om die Rappin’ Donkey Stigting tot stand te bring.

“Die stigting gaan kyk na kunstenaars wat nog nooit geleentheid gehad het om hul talente te ontwikkel nie.”

* Woensdag se konsert sal mense ’n kykie gee in die Donkie se planne vorentoe.

Die stage band is Fire Ball met Johnnie Star. Die jong kinder-sensasie, Rouxan Visser, tree op saam met Paarlse sangers Samenthia Wallaby en Besserien Booysen.

Kaartjies is nog beskikbaar by die Donkie se agente, of skakel 862-1618 of 083-398-7718.



More News

 
    [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za