Nog verdagtes dalk aangekeer
2006-03-23
DIE polisie is op die punt om nog twee verdagtes in hegtenis te neem in verband met die grusame moord op ’n Paarlse kerkman in November verlede jaar.
Dit het verlede week aan die lig gekom toe die aangehoudenes in dié saak weer in die Paarlse landdroshof verskyn het.
Evans Marani (29) en Selwyn Adonis (23) word daarvan aangekla dat hulle die opsigter van die Mormoonse kerk in Klein Drakensteinweg, Charles Jacobs, wreedaardig vermoor het.
Charles is vermoedelik herhaaldelik gekap en gesteek met tuingereedskap en sy broek is oor sy kop getrek, asof hy ’n kroon gedra het.
Die woord “Satun” is met sy bloed op ’n vloer geskryf.
Marani, ’n Keniaan, het die Jacobs-gesin goed geken. Hy het die aand, terwyl Jacobs in die kerk dood gelê het, by Charles se moeder gaan kuier. Hulle het vir hom ’n bord kos aangebied.
Adonis is ’n paar dae later as medepligtige in hegtenis geneem. Staatsaanklaer Chris Abrahams het tydens die hofverrigtinge aangedui dat nog twee verdagtes binnekort aangekeer sal word.
Die saak is uitgestel tot 4 Mei, waartydens daar besluit sal word wanneer die saak na die hooggeregshof verwys sal word.
More
News
|