Leerders leer van wynverwerking
2005-04-07
ISIVUNO, die Departement van Arbeid se werkskeppingsagentskap vir Wes- en Noord-Kaapland, is een van die top-presteerders onder die 20 agentskappe landwyd.
Isivuno het na een jaar reeds 350 mense vir werk opgelei terwyl hul teiken vir vier jaar die opleiding van 500 mense was.
“Isivuno is die Xhosa-woord vir Die Oes. En ons wil suksesvolle mense oes,” het Okkie Bosman, besturende direkteur van Isivuno, in die naweek by ‘n funksie vir ‘n groep leerders in die wynbedryf gesê.
Die leerders kom uit die geledere van werkloses tussen die ouderdom van 18 en 25 jaar. Hulle word met die hulp van die verskillende technikon kampusse in die Wes- en Noord-Kaap opgelei.
Opleiding sentreer om die bedryf wat die meeste tot die ekonomie in hul streek bydra.
Daar was in die naweek twee funksies vir leerders - een vir die groep wat in wynverwerking opgelei word op Stellenbosch en een vir ‘n groep wat op Lambertsbaai vaardighede vir visverwerking aanleer.
John Nathan, Australiese raadgewer van die Departement van Arbeid, het daarop gewys dat die werkskeppingsagentskappe die patroon volg wat suksesvol in sy land toegepas is.
“Suid-Afrika het egter ander uniekhede en elke program word na die streek se behoeftes aangepas,” het hy gesê.
Charles Erasmus, voorsitter van Isivuno en uitvoerende hoofamptenaar van die Suid-Afrikaanse Wyntrust, het op die Stellenbosse funksie in die sjerriekelder op Boschendal gesê die organisasie het gewys dat hy sy rol in die wynbedryf verstaan.
“Dis hoekom Isivuno so goed presteer,” het hy gesê. “Die organisasie het oook 'n goeie samewerkingsooreenkoms met die SA Wyn en Brandewynmaatskappy.”
Sowat 40 leerders van Pniel, Johannesdal en Kylemore naby Stellenbosch en 40 van Upington word as wynverwerkers opgelei. +
More
News
|