Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Wellington vanjaar nog gevaarliker

Wellington vanjaar nog gevaarliker
 
2006-03-23


DIT gaan vanjaar baie verg om Wellington Rugbyklub van sy troon as Boland klubkampioen af te boender.

Wellington het Saterdag tydens sy rugbydag die Universiteit van Kaapstad (UK) met ’n baie fisiese aanslag 19-10 geklop.

Die wedstryd is ook nie end-uit gespeel nie. Die studente se afrigter, het sowat vyf minute voor die einde sy span van die veld gehaal, nadat sy frustrasie met die skeidsregter se beslissings breekpunt bereik het.

Teen rustyd het die Ikeys reeds drie plaasvervangers op die veld gehad nadat drie van sy agterspelers beseer is.

Een hiervan die senter wat ná ’n klipharde laagvat op sy nek beland het en met ’n draagbaar van die veld gedra is.

Hoewel hy kort daarna weer op sy voete langs die veld was, het hy duidelik aan harsingskudding gely.

Ná nog ’n genadelose aanval in die besoekers se kwartgebied in die laaste kwartier van spel, het nog ’n Ikey-speler bly lê.

Afrigter Dave Mallett (broer van Nick), het hierna die kaptein nader getrek en hokaai geroep aan die wedstryd.

Wat ander klubs in die Boland se Superliga A1 onrustig behoort te maak, is dat dié span nie naastenby die beste vyftiental is wat Wellington vanjaar in die veld gaan stoot nie.

Wellington Rugbyklub spog vanjaar met 54 nuwe spelers wat die totale ledetal tot sowat 100 spelers te staan bring.

Met soveel nuwe talent tot sy beskikking, sal afrigter Jaco Stoumann beslis ’n gedugte span aanmekaar kan slaan.

Ander groot staatmakers soos Gordon Johnson (milt-operasie, skrumskakel), Theuns Stoffberg (skouer, losskakel) en Gerdus la Grange (elmboog, slot) is ook aan die herstel en behoort binnekort vir die span beskikbaar te wees, terwyl De Wet Neethling (slot) teruggekeer het uit Engeland en ook weer by die klub sal aansluit.

“Ons verdediging was baie goed en die toewyding waarmee die ouens gespeel het, was ’n groot verbetering op die vorige week se wedstryd,” het Stoumann gesê.

Op Mallett se reaksie op die skeidsregter, het Stoumann gesê dat die blaser blapse na beide kante gemaak het, “maar dat jy jou spel maar daarby moet aanpas”.

In ’n poging om veral die jonger spelers wedstryde te gee, organiseer die klub ’n reeks informele o.21-wedstryde teen klubs van die Kaap en selfs die koshuisspanne van Maties.

Wellington se o.21’s het verlede week vir Paarl 64-0 verneder.
Wellington speel Saterdag in ’n voorwedstryd teen ’n gekombineerde toerspan van die Britse Weermag op Boland Stadion.

Die wedstryd skop om 14:30 af, met die kragmeting tussen die Boland Kavaliers en Blou Bulle wat om 16:00 begin.




More News
  • Kavaliers moet momentum gebruik
  • Sewes-aksie begin reeds môre
  • Baie visse uitgetrek
  • Standards koning
  • Last shot at gun run
  • Entries open for local MTB race
  • Wedvlug-duiwe
  • Sportdagboek
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za