Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Nuwe jas vir Bergkwagga

Nuwe jas vir Bergkwagga
 
2005-04-07


OP die rype ouderdom van 63 spog een van die Paarl se bes gevestigde wynkelders met ‘n splinternuwe baadjie.

Perdeberg Wynkelder is nou letterlik ‘n perd van ‘n ander kleur: sy wynetikette, bottels en bemarkingsmateriaal is alles verander.

Die vars, nuwe voorkoms is die nadraai van omvattende navorsing en die gevolg van ‘n vindingryke strategie vir die handelsmerk se bemarkingskommunikasie.

En dit is nie al nie: die wynkelder se herontwerpte proelokaal is pas vir die publiek oopgestel.

Kobus de Kock, Besturende Direkteur van Perdeberg Wynkelder, sê hul kliënte sluit internasionale verbruikers in.

“Daarom wou ons nie te ver wegbeweeg van die oorsprong van ons embleem, die kop van die Kaapse Bergkwagga wat vroeër jare volop in die Perdebergstreek voorgekom het, nie.

“Uit navorsing weet ons dat die tikkie Afrika-gevoel ‘n groot aantrekkingskrag vir oorsese wynkopers inhou.

“Maar omdat ons twee verskillende reekse – die standaard en die reserwe – op die mark het, wou ons die verwantskap en ook die verskil tussen die twee uitbeeld.

“Daarom het ons die reserwe-reeks se etiket ontwerp om so effens meer gesofistikeerd – en tog ewe stylvol en elegant as die standaardreeks s’n – te wees.

“As dit kom by wynmaak, tel die kleinste detail,” sê De Kock. “Dieselfde met ons etikette. Die sagte kwaggastrepe is daar met ‘n doel.

“So ook die rante van die etikette wat oneweredig gesny is om die buitelyne van die Perdeberg, aan wie se voet ons wynkelder lê, weer te gee. Met hierdie elemente wys ons trots ons ware kleure, ons eg-Suid-Afrikaanse herkoms.”

Beide die standaard- en reserwe-reekse bied ‘n Chenin Blanc, Sauvignon Blanc, Chardonnay, Cabernet Sauvignon, Cabernet Sauvignon/Merlot, Cinsaut Shiraz, Merlot, Shiraz en Pinotage. Perdeberg se witwyne kos vanaf R15,50; die rooiwyne begin by R17,50.

Die wye verskeidenheid word moontlik gemaak deur die vyf uiteenlopende mikroklimate wat in Perdeberg se 3 000 hektaar wingerde voorkom.

“Ons gebruik infrarooi lugfotografie om moontlike probleme hok te slaan en om geleenthede raak te sien.

"Ons wyne kry letterlik in die wingerd gestalte. Ons geesdriftige span bly gedurig een tree voor met die maak van die beste wyne – vir plaaslik sowel as internasionaal,” voeg De Kock by.



More News
  • Manager did much good work
  • Zandwyk Park goes ahead
  • Rare wines hold their own at auction
  • Multiple awards for Grande Provence
  • Grondkundige kragte saamgespan
  • Fairtrade vloei suiwer by Bosmans
  • Sweet success for Nederburg
  • “TERROIRIST” at Nederburg Auction
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za