Kattemoord
2006-03-30
Malané Bosman
’n KATMOORDENAAR sluip in Suider-Paarl rond, met gif wat streng beheerd vir die uitwissing van ongediertes gebruik word.
’n Nadoodse ondersoek wat op ’n kat gedoen is wat voorverlede week in ’n oprit in Suider-Paarl, langs Jan Phillipsbergpad gekry is, het positief getoon vir Aldicarb, met die handelsnaam Temik.
Die gemmerkat het aan “erge longedeem” gevrek. Dié pesdoder het die bynaam Two-step, glo omdat die dier skaars twee treë vorder nadat die gif ingeneem is.
“Toe ek een aand die kat deur my tuin sien stap, het ek gewonder hoe lank hy sal bly leef,” het dr Jorrie Jordaan ontsteld gesê.
“Ek het die gevoel gekry omdat daar al tevore dooie katte in die oprit en oorkant die straat gevind is.
“En daardie nag het ek gehoor hoe ’n kat in pyn sterf. Die volgende oggend het hy in die oprit gelê, met ’n bietjie bloederige skuim by sy bek.”
Dr Jordaan het die gemmerkat na ’n veearts geneem en gevra dat daar vir gif getoets word.
Volgens veearts dr Emile du Plessis, is Temic geweldig gevaarlik.
“Ek dink die gif word dalk in vis verbloem en die katte daarmee gelok,” het dr Jordaan gesê.
Dit is die tweede kat wat hy dood in sy tuin optel.
Die eienaars van die gastehuis Skinkikofi oorkant die straat, het dieselfde dag as dr Jordaan ’n dooie gemmerkleurige kat gekry in hul erf.
Hulle het voorheen ook hul eie jong Persiese kat daar dood opgetel.
Nog ’n buurvrou, Molly Nel, het drie waardevolle Burmese katte - reggemaakte mannetjies - verloor. Die een is waarskynlik doodgery, maar die ander twee het soortgelyke tekens as die vergiftigde kat getoon.
Dr Jordaan het die saak nou onder die aandag van die polisie gebring. Die Paarl Dierebeskermingsvereniging is ook ingelig.
Pamflette wat huisbewoners waarsku dat “’n persoon besig is om katte te vergiftig in die omgewing van Jan Phillipsbergpad” word deur beamptes uitgedeel.
Nadat inwoners van Oranjestraat sowat ’n jaar gelede met pamflette gewaarsku is toe drie katte daar vergiftig is, is die gifgooiery gestaak.
Die minimum vonnis vir die vergiftiging van troeteldiere is ses maande tronkstraf, sonder die keuse van ’n boete, met die maksimum vonnis vier jaar gevangenisstraf. Onlangs was daar ’n internasionale ophef toe vyf wit renosters onder 30 diere was wat deur wilddiewe in ’n Limpopo natuurpark vergiftig is.
“’n Watergat is met die gevaarlike Temic vergiftig,” is deur die polisie en Dierebeskermingsvereniging bevind.
“Temic verdraai die dier se derms en hy sterf ’n aaklige dood.”
* A cat killer who uses an extremely dangerous pesticide, is on the loose in Paarl South.
More
News
|