Voortrekkers wen weer
2006-03-30
TYDENS die jaarlikse vlotvaart-kompetisie van die Wes-Kaapse Voortrekkers op 11 Maart, het Wellington se Wamakersvallei Kommando vier vlotte ingeskryf waarvan drie hul klasse gewen het.
Vanjaar was die kompetisie weer straf met ’n totaal van 28 vlotte wat in vier kategorieë deelgeneem het.
Wamakersvallei het ’n vlot in beide die ope en gemengde (dogters en seuns) klasse ingeskryf sowel as twee vlotte in die seuns-afdeling.
Die vlotte word volgens redelike streng spesifikasies gebou sodat die kans op sukses van die spangees en samewerking van elke span afhang, eerder as die vlot self.
Die vlotte word die Vrydagnag by die wegspringplek, 9 km stroom-op vanaf Velddrif, gebou en spring douvoordag Saterdagoggend weg.
Vir veiligheid geld daar ook reëls op die water en is motorbote byderhand om hulp te verleen.
Die eindpunt is by die padbrug by die Riviera Hotel op Velddrif, waar die prysuitdeling plaasvind en die hotel die moeë roeiers en hul getroue ondersteuners trakteer op ’n egte Weskus snoekbraai.
Wellington se ope-afdeling vlot het tweede plek behaal en die gemengde vlot eerste plek.
Die een seunspan het met hulle vlot wat as die derde ste-wigste beoordeel is, op hulle rekord voortgebou deur vir die derde keer in vier jaar te wen.
More
News
|