Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Put steeds sonder water

Put steeds sonder water
 
2006-03-30

David Joshua

SLANG se kind het haar al lelik die skrik op die lyf gejaag, want tot vandag toe weet sy nie hoe vinnig sy van die buitetoilette gekom het terug op die skoolstoep nie!

“Die geelslang het bakkop agter die toiletdeur gestaan toe ek dit oopstoot. Dis nadat van die kinders uitasem kom vertel het dat hulle ’n slang by die buitetoilet sien inseil het.

“Van die mansonderwysers het van die ding ontslae gaan raak. Seker op soek na water of ’n koeltetjie,” vertel skoolhoof Juna van Diemel van Blouvlei Primêr, ’n skooltjie aan die Perdeskoen net buite Wellington.

Die probleem by hierdie skool van 100 leerlinge met vier leerkragte, is die onhigiëniese put-toiletstelsel.

Die skool het nie die basiese toiletgeriewe vir personeel en leerlinge nie. Nou lol die elektrisiteitvoorsiening ook nog.

“Ons is al byna twaalf jaar in die nuwe Suid-Afrika en vir die grootste gedeelte, sedert die skool se ontstaan in 1965, moes leerlinge nog tot onlangs maar op hul hurke hulself verlig,” sê sy.

Die put-toilette, twee vir seuns en twee vir dogters, is onhigiënies en nie in ’n goeie toestand nie.

Stap jy nader, hang daar ’n sterk urinereuk in die lug en moet jy gedurig vlieë van jou af wegslaan.

Langsaan staan een groen mobiele toilet wat geskenk is vir leerkragte se gebruik.

“Ons kry wel samewerking van plaaseienaars. Ek kan die naburige Ernita Kwekery asook Jacques Smit nie genoeg bedank vir die verskaffing en pomp van ons drinkwater nie,” volgens Van Diemel.
Smit sê dat die Blouvlei boerderygemeenskap almal bygedra het om die boorgatwater en pomp-fasiliteit daar te stel.

Planne is ook reeds ver gevorder om nog ’n boorgat vir spoeltoilette en ’n ekstra klaskamer by die skool op te rig.

“Die planne moet egter nog by Drakenstein Munisipaliteit goedgekeur word en ten spyte van die bydrae van die Onderwysdepartement kort ons nog R100 000 om die projek af te handel,” het hy bygevoeg.

Indien munisipale waterverskaffing aangelê moet word, is die fondse hopeloos te min.

Volgens ’n woordvoerder van die VGK Wellington (wat die gebou besit) het die kerk geen beswaar teen die beoogde opgradering nie, maar kan die gemeente nie finansieel bydra nie.

Ook die elektrisiteitsrekening word van die skool se monetêre toekenning afgetrek, wat beperkte fondse laat vir opvoedkundige doeleindes.

Verskeie briewe om hulp en donasies is aan private instansies gerig.

“Ek doen ’n beroep op ondersteuning,” het Van Diemel gevra.

* A local primary school has appealed for funding for the upgrading of their ablution block.



More News
  • Gasheer vir stoei
  • Show-jumping inter-schools at Evergreen
  • Met 'n groot glimlag vorentoe
  • Wiese uit sy nate oor oorsese toer
  • Boishaai gesels saam met grotes
  • Paarl Juniors hit five
  • Sixteen teams in soccer tournament
  • Alexa skrik nie vir 300 doele nie
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za