Hof moet dalk Boland Klubkrieket-kampioen aanwys
2006-03-30
DIT lyk of die Boland Klubkrieket-kampioen vanjaar deur ’n regter aangewys sal moet word.
Die Boland Krieketraad het verlede Woensdagaand volstaan by sy besluit om Wellington Krieketklub met nege punte te beboet - ’n besluit wat verhoed dat dié klub as die Boland se Premierliga klubkampioen aangewys word.
Wellington is tans slegs 0,05 van ’n punt agter Brackenfell Krieketklub op die Premierliga punteleer wat beteken dat die klub voorlopig die klubkampioen is.
Die straf kom nadat ’n Wellington-speler, Riaan Jephtha, nie ’n vertrek-sertifikaat kon voorlê nie nadat hy twee seisoene gelede vir Young Peoples Krieketklub gespeel het.
Volgens die Boland-reëls moet ’n speler ’n vertrek-sertifikaat kan voorlê wanneer hy van klub verwissel.
Dit is juis die interpretasie van die einste klousule wat die tameletjie is.
Volgens Pietie Williams, hoof uitvoerende beampte van Boland Krieket, het Wellington Krieketklub aangedui dat hy nie die besluit aanvaar nie en ’n regsskrywe aan Boland gerig.
“Die Wellington Krieketklub het hulle beroep op ’n prokureur en ons het die skrywe wat ons van hulle ontvang het na ons prokureur verwys. Dié het ons verseker dat ons binne die reëls van Boland Krieket, korrek opgetree het,” het Williams Dinsdag gesê.
“Die lyk asof daar op ’n hoër gesag beroep sal moet word om te bepaal wie interpreteer die klousule korrek.”
Williams het bygevoeg dat die Titans presies dieselfde klousule in sy reëlboek het, terwyl die Westelike Provinsie ’n meer breedvoerige uitleg het in sy reëls rakende spelers wat van klub verander.
Dit wil voorkom of ’n aanpassing van dié reël ook in Boland-geledere kan plaasvind.
“Die plaaslike liga-komitee is gevra om ’n voorlegging te maak aan die Raad rakende vertrek-sertifikate,” het Williams gesê.
Die omstandighede rondom die aansoek en uitreiking van die betrokke sertifikaat word ook deur Wellington Krieketklub bevraagteken en dokumentasie wat dit breedvoerig verduidelik, is ook aan die klub se regsverteenwoordigers oorhandig.
Hoewel geen hofsake aanhangig gemaak is nie, blyk dit dat ’n regter al die betrokke papierwerk onder oë sal moet neem en dan die laaste sê sal hê.
As die saak nie spoedig opgelos word nie, beloof dit ’n interessante aand te wees, wanneer die Boland Krieketraad op 12 Mei sy prysuitdeling hou. Williams het bevestig dat Brackenfell voorlopig die ligawenners is.
More
News
|