Eendag-trofee wink vir Boland
2006-03-30
AS die Boland amateur-krieketspan sy huidige momentum behou, behoort hy Saterdag die Titans in die eindstryd van die eendagkompetisie te klop.
Die Bolanders speel wel die eindstryd op hul tuisveld, maar die duiweltjie op hul skouers sal hulle daaraan herinner dat hulle verlede jaar in dieselfde situasie vasgeval het.
Die Boland het verlede seisoen in die eindstryd ook in die Paarl teen die Vrystaat verloor.
Die Bolanders het hul plek in die finaal verseker toe hulle Saterdag op Bolandpark vir Gauteng oortuigend met sewe paaltjies geklop het.
Die besoekers het 207/6 in hul toegelate 45 beurte aangeteken. Waylain September (2/34 in 9bb), Wallace Albertyn (2/41 in 8bb) en Pepler Sandri (2/31 in 6bb) het verhoed dat die boulers handuitruk.
Die tuiskolwers het van die staanspoor af aggressief na die balle gespeel, met veral die openingskolwer, September, wat gehelp het om die lopietempo konstant te hou op 5,5 per beurt.
September het 48 van 58 balle gemoker wat sewe grenshoue en ’n ses ingesluit het.
Die grootste beurt van die dag is egter deur Wiaan Smit gespeel. Sy 108 is van slegs 104 balle gemoker en het 18 grenshoue en ’n ses ingesluit.
Warren Swan se 23 van 32 balle het ook daartoe bygedra dat die Boland die wenlopies reeds in die 36ste beurt kon aanteken.
Die Boland se afrigter, Salieg Nackerdien, het vandeesweek sy tevredenheid met sy span uitgespreek.
“Ons boulwerk kan ’n bietjie verbeter, maar die boulers het darem verhoed dat die Gauteng-kolwers buite beheer geraak het,” het Nackerdien gesê.
Hy het beaam dat as sy kolwers hul vorm behou, die Boland ’n goeie kans staan om die kompetisie te wen.
“Ons het Saterdag konstant gekolf teen tussen 5,5 en 6 lopies per beurt. Ons moet net die momentum behou.
“In die afgelope paar wedstryde moes ons aanmekaar die lopies jaag en het ons sukses behaal.
“Maar dit gaan maar oor hoe die spelers hul kanse op die dag benut. Mens moet nie nou groot praat nie, maar speel soos ons kan speel,” het Nackerdien gesê.
Hy het beaam dat die ontwikkeling van die linkshandige draaibouler, Waylain September, in ’n openingskolwer ’n welkome verrassing is.
“Hy is soms ’n bietjie los, maar hy kán aggressief kolf en ’n beurt aan die gang hou.”
September is tans die hoogste lopiemaker in die Boland se Premierliga-klubkompetisie.
In die elf beurte waarin hy al vir sy klub, Paarl-Oos Krieketklub, voor die penne stelling ingeneem het, was hy vier keer nie uit nie. Hy het dié seisoen ’n totaal van 494 lopies gemoker, met ’n hoogste telling van 100 nie uit nie.
Benewens dié honderdtal het hy ook vier vyftigtalle aangeteken en spog met ’n wedstryd-gemiddeld van 70,6 lopies.
Saterdag se eindstryd teen die Titans begin om 10:00 op Bolandpark.
* Die Boland was minder suksesvol in die nasionale driedagkompetisie en het vierde geeindig in die Kusgroep.
More
News
|