Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Top pianiste by klaviersimposium

Top pianiste by klaviersimposium
 
2006-03-30


DIE Stellenbosch Internasionale Klaviersimposium, wat van 8 tot 12 April deur die Departement Musiek, Universiteit Stellenbosch, aangebied word, beloof opwindende en uitsonderlike uitvoerings deur top pianiste en ’n fees vir klavierentoesiaste en konsertgangers.

Vier luisterryke aandkonserte deur die befaamde Russiese pianis Konstantin Scherbakov, die bekroonde Genova-Dimitrov klavierduo, asook van Suid-Afrika se voorste pianiste, vind tydens die vyfdaagse simposium in die Endlersaal, US Konservatorium plaas.

Scherbakov, ’n voormalige student en ook later dosent aan die Moskouse Konservatorium, het reeds verskeie pryse by voorste internasionale klavierkompetisies, asook eerste prys in die Rachmaninoff Internasionale Klavierkompetisie in Moskou, verower.

Scherbakov se uitvoering op Woensdag 12 April sal bestaan uit ’n aantal bekende werke van Chopin, insluitend die Fantasie in F Mineur, Op 49, die Nokturne in E-mol Majeur, Op 9 No 2 en die Ballade in A-mol Majeur, Op 47. Ook op die program is werke van Godowsky en Rzewsky.

Die Bulgaarse klavierduo van Aglike Genova en Liuben Dimitrov het onlangs Kaapse gehore gaande gehad met wat Die Burger beskryf het as hul onberispelike “samespel, tegniese virtuositeit en musikale interpretasie”.

Die duo word algemeen aanvaar as een van die voorste klavierduos in die wêreld.

Op Maandag 10 April sal Genova-Dimitrov hul reputasie gestand doen met uitvoerings van werke deur Busoni, Ravel en Gershwin, asook die bekende Variasies op ’n Tema van Haydn, Op 56b van Brahms en die immergewilde en opwindende Suite no 2 in C Mineur, Op 17 van Rachmaninoff.

Van Suid-Afrika se voorste pianiste- en pedagoë sal ook tydens die simposium in solo, duet en duo-uitvoerings te hoor wees.

Joseph Stanford, Nina Schumann, Simone Kirsch, Bennie van Eeden, Luis Magalhães, Graham Fitch, Malcolm Nay, Albie van Schalkwyk, Liezl-Maret Jacobs, Erika Bothma en Catherine Foxcroft sal op Sondag 9 April en Dinsdag 11 April kragte saamspan vir twee uitsonderlike uitvoerings wat nie misgeloop mag word nie.

Die program vir 9 April sal bestaan uit werke van Schubert, Chopin en Debussy, asook verwerkings van werke deur Tchaikovsky en Mozart.

Werke van Ravel, Liszt, Brahms en Rachmaninoff sal op 11 April te hoor wees.

Alle aandkonserte vind plaas om 20:00 in die Endlersaal, US Konservatorium.

Voorafbesprekings kan gemaak word by Computicket. Kaartjies sal ook voor die aanvang van die onderskeie uitvoerings by die Endlersaal-kaartjiekantoor te koop wees.

Daar sal ook daagliks van Maandag 10 April tot Woensdag 12 April om 13:10, gratis etensuurkonserte deur belowende jong pianiste in die Endlersaal plaasvind.

Vir navrae, kontak die US Departement Musiek by 808-2343, stuur 'n e-pos aan music@sun.ac.za of besoek hul webwerf by www.sun.ac.za/music.



More News

 
    [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za