Teater is haar lewe
2006-03-30
“EK wil optree,” beskryf Francelle Venter van die Paarl haar droom.
Luister ’n mens na haar besonderse stem en kyk na haar vertolking van die lirieke en drama-insetsels, besef jy hier is ’n kunstenaar wat nog diep spore gaan trap.
Francelle het onlangs haar eerste solo-konsert in die La Musique-teater in Bredastraat aangebied, tot groot vermaak van haar gehoor.
Francelle is vanjaar in matriek by Hoër Meisieskool, maar op die verhoog het sy die vertroue en selfvertroue van ’n ervare vermaakkunstenaar.
“Teater is my eerste liefde,” vertel sy.
Dit is dan ook die rigting waarin sy wil studeer.
“Ek verkies teater bó film, want ek hou daarvan om op my voete te dink en te improviseer.”
Francelle neem reeds van graad 2 af drama, onder meer by Sophia Passerini. Sy neem ook spraak en drama as sewende skoolvak by Wiwe Pretorius.
Vier jaar gelede het sy by La Musique Kunsteskool aangeklop vir drama-onderrig.
“Oom Andrew (Strauss) het gesê hier word eintlik gesing en ek het toe maar ’n oudisie gedoen!”
Die res is geskiedenis en vandag, ná Strauss se dood, neem sy sangles by Mimi Haasbroek.
Mimi sê Francelle het ’n baie sterk stem, met ’n besondere breë stemvermoë, hoewel sy meer alt sing.
“Ek sien haar op die verhoog in ’n Broadway-produksie. Sy is gebore om op te tree.”
Francelle rond haar verhoogkuns af met dans. Sy neem Hip-Hop, Vrystyl en Funky Jazz by die Rixie Dansateljee.
Sy sal ook graag eendag haar talente met ander studente wil deel. “Ek sal graag wil perform en klas gee.”
En dan stel sy ook nog in redigering belang.
Hier is beslis ’n meisie van wie ons nog baie gaan hoor.
More
News
|