Charlene en haar musiek
2005-04-07
DIE bekende Charlene Truter is op Vrydag 15 April in die Paarl met ’n program, ‘Ek & my musiek’.
Dit begin om 19:00 in die Laborie-restaurant, Suider-Paarl. Charlene word begelei deur Bram Potgieter.
Charlene is bekend as aanbieder van Pasella op SABC2.
Verlede jaar het Suid-Afrikaanse gehore haar die eerste keer op die verhoog gesien in `Nagkantoor', die produksie oor Koos du Plessis se musiek onder regie van Sandra Prinsloo.
Sy het ook die tradisionele Griekwapsalm Pryslied saam met Danie Niehaus opgeneem op sy CD Kerslantern. Haar vertoning in die Paarl is ’n viering van die musiek wat die grootste invloed op haar gehad het - die meeste daarvan in Afrikaans.
Dit is oorspronklik saamgestel vir die Suid-Afrikaanse fees in Vlaandere (België) in 2002 onder die naam Pryslied en met groot sukses daar uitgevoer.
Begeleier Bram Potgieter se slim verwerkings het die musiek ’n energieke dimensie gegee sonder om die sielvolheid daarvan te verloor.
Vir die België-vertoning kon musiek van Amanda Strydom, Stef Bos en liedjies uit haar kinderdae wat mondelings van geslag tot geslag oorgedra is, gehoor word, asook die Pryslied.
Sedertdien is nuwe liedjies van Eva Cassidy en ’n paar klassieke gunstelinge tot die program bygevoeg, onder meer uit Nagkantoor.
“Dis vir my gepas dat ek ná die suksesse van verlede jaar terugkeer na my geboortedorp en ek sien uit na dié ervaring.”
Kaartjies: Skakel Laborie 807-3095 of Paarl Muzikfront 872-9183.
More
News
|