Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Motor beland byna in slaapkamer

Motor beland byna in slaapkamer
 
2006-04-06


DIE spoedbulte in End- en Dennestraat wat verby die Langham Park Hotel op Wellington loop, is onvoldoende.

Dit is die mening van Adam en Katy Joseph van Endstraat 3A, nadat ’n motor Vrydagoggend omstreeks 02:15 deur hul voorstoep en byna in hulle slaapkamer beland het.

“Die geweldige slag het soos ’n kanonskoot geklink. Ons het gehop van die skrik en vervaard uit die bed opgespring. Adam, my man, was witter geskrik as ek,” sê Katy Joseph.

Adam voeg by: “Dit kon soveel erger gewees het. Hierdie was ’n ongeluk wat gewag het om te gebeur met die onverskillige motoriste wat hier verby die huis jaag.”

Die jong vrou van Vanwyksvlei wat die BMW bestuur het, het skouerbeserings opgedoen.

“Sy het van die hotel af gekom. Haar voet moes seker gegly het, want in plaas van rem trap, het sy vet gegee toe sy by Endstraat inswaai.

“Die BMW het my seun se motor, wat voor die huis geparkeer was, seker met ’n baksteenbreedte gemis en die stoeppilaar morsaf gery.

Die boompie voor het seker gekeer, anders het ek my slaapkamer met ’n motor en twee vrouens gedeel,” lag Joseph.

Volgens hom het inwoners in die straat in die verlede klagtes aan die verkeersdepartement gerig oor die laatnag, vroegoggend se gefuifery naby die hotel en die jagery (“Pop-a-Wheelie”) in Dennestraat af.

“Dis skreeuende motorbande en rook wat trek wat jou naar maak,” sê Joseph. “Ons het egter nie probleme met die hotel self nie, want hul kliënte parkeer agter in hulle parkeerarea. Ons het nie las van hulle nie.”

Hotelbestuurder Lional Nyman beaam dit.

“Ons het voldoende sekuriteit by ons eie parkeerarea. Streng reëls geld en ons eie kliënte maak hulle nie skuldig aan hierdie gedrag nie.

“Dis die spannetjies voor die hotel wat hulle nie aan die hotelreëls wil onderwerp nie en wat probleme veroorsaak,” sê hy.

“Jy soek vir groter moeilikheid as jy hulle konfronteer. Ek kry goeie samewerking van die polisie, maar kan seker nie verwag dat hulle die mense soos babas moet oppas nie. Hulle het self hulle hande vol.”

Volgens Joseph kla inwoners dat hulle nie hul motors veilig voor hulle huise kan parkeer nie.

Moontlike oplossings is meer spoedwalle en die verandering van Dennestraat in ’n eenrigtingstraat suidwaarts. Hy het sy vrees vir die komende Paasnaweek uitgespreek.

Die Josephs het onderling met die motorbestuurder geskik en geen formele klagte is by die polisie gelê nie.

* A Wellington couple were shocked when a car landed on their verandah.



More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za