Vrou beswyk aan 19 messteke
2006-04-06
’n NAG van seks en drank het waarskynlik daartoe gelei dat ’n middeljarige vrou Saterdagnag in ’n huis in Denneburg wreedaardig vermoor en haar bebloede lyk tot in die straat gesleep is.
’n Aantreklike, blonde jongman het Dinsdag kaalvoet in die Paarl Landdroshof verskyn op aanklag van dié gru-moord.
Inwoners van die rustige Aurorastraat het Sondag die naakte lyk van die sekswerker (53) in die middel van die straat aangetref met 19 steekwonde in haar bolyf. ’n Bloedstreep het gelei na ’n huis, Aurorastraat 10.
Die liggaam van Ellenor Leander, met net ’n paar wit sokkies, is 06:00 deur ’n voetganger ontdek.
Die polisie het die streep bloed gevolg tot by die voordeur, en die inwoners wakker geklop.
Clifford Norval (22) het ten aanskoue van bure die polisie vriendelik gegroet en gevra waarmee hy kon help - klaarblyklik onbewus van die bloed aan sy hande en voete.
Die polisie het die huis deursoek en langs bloedbesmeerde mure gestap tot hulle op die moord-toneel in sy slaapkamer afgekom het.
Die bed en mat in die slaapkamer was deurdrenk van bloed. ’n Swaard teen die muur is uit sy goue skede verwyder. Die lem was met bloed besmeer.
Clifford se aanneem ma Amanda was glo onbewus van wat dié nag in die huis gebeur het. Sy het blykbaar om 01:00 tuisgekom.
’n Ooggetuie het gesê dat hy Saterdagaand omstreeks 22:00 vir Clifford in Jan van Riebeeckweg sien stap het in die rigting van Aurorastraat, hand-aan-hand met ’n vrou wat aan die beskrywing van die oorledene voldoen het.
Verskeie jongmense in Aurorastraat het vertel dat Clifford die Saterdagmiddag in die straat rondgedwaal het op soek na iemand om saam met hom te kuier.
Een van hulle was Chenelle de Wet (17), wat skuins oorkant die Norvals woon.
“Clifford het ses-uur met my kom gesels en beweer dat hy verjaar.
“Hy wou hê dat ek saam met hom by sy huis ’n drankie moet drink,” het ’n verslae Chenelle gesê.
“Hy was baie vriendelik en het vertel dat hy so pas uit Engeland teruggekeer het. Hy het gesê dat hy tans ‘body piercing’ doen, en as ek ooit iets gedoen wil hê, moet ek na hom toe kom.
“Gelukkig het ek geweet van sy reputasie en het ek geweier om saam met hom te gaan. Nou rys my hare as ek daaraan dink.
“Ek het gehoor dat hy betrokke is by Satanisme. Hy het al vir iemand wat ek ken ’n glas ‘wyn’ aangebied het, maar toe was dit katbloed.”
Clifford is op die ouderdom van drie deur die Norvals in Kaapstad aangeneem. Hulle het later na die Paarl verhuis.
“Ek het hom as my eie kind grootgemaak,” het Clifford se aanneempa, George, gister gesê. “Hy was baie saggeaard tot hy op 16 verkeerde vriende gekry het, uit die skool uit is na Boland Kollege, en begin steel het.”
Clifford het, nadat sy aanneemouers geskei is, by sy aanneem-ma gewoon, maar het glo vir maande op ’n slag verdwyn.
“Ek het Clifford nog nie hierdie week gesien nie, en ek gaan hom ook nie besoek nie,” het Norval gesê.
“Dalk is daar iets in die gene wat oorgedra is. Clifford se biologiese pa was in die gevangenis vir gewapende roof.”
Clifford is al verbind met verskeie diefstalle in die Denneburg gebied, ook ’n inbraak by die NG Kerk Denneburg. ’n Lasbrief vir sy inhegtenisname is onlangs weer uitgereik vir diefstal.
Ellenor se suster, Berenice Abrahams, het gesê dat sy haar suster Saterdagaand om 18:30 laas lewend gesien het.
“Sy was so vrolik soos altyd. Sy het gesê dat sy Sondag by ons sou kom kuier het.”
Ellenor, van Kanariestraat, word oorleef deur vyf kinders.
Clifford het Dinsdag, kaalvoet en geklee in ’n blou T-hemp en swart sweetpak-broek, in die Paarlse landdroshof verskyn.
Toe landdros Genie Jacobs hom kaalvoet uit die selle sien kom, het sy gevra of iemand sy skoene in die selle gesteel het, waarop hy geantwoord het: “Nee, ek hou daarvan om kaalvoet te loop.”
Clifford is nie gevra om te pleit nie en die saak is tot 11 April uitgestel vir 'n borgaansoek.
* A young Denneburg man has been arrested for the dagger death of a middle-aged sex worker.
More
News
|