Katte doen groot kwaad by my voëls
2006-04-06
GRAAG wil ek my meegevoel deel met die persone in Suider-Paarl wat hulle katte so wreed verloor het (voorblad van die Paarl Post 30 Maart).
Ek is self ’n groot diereliefhebber en het verskeie diere.
Nou vra ek aan kateienaars wat moet ek met julle probleem-katte maak wat my duur voëls snags terroriseer en soms hulle dood veroorsaak of in skok laat sodat hulle nie wil broei nie?
My voëls kos my duisende rande en u Kietsie betree my erf en jaag sy kattekwaad aan.
Ek het al baie natuurlike maniere probeer om die katte te verwilder, maar met min sukses. Tot my honde het al sleg tweede gekom waar ’n paar katte onlangs baklei het.
As ek hulle van die muur of hok se dak afjaag doen my voëls beserings op omdat hulle in die drade vasvlieg.
Die DBV het my al ’n vanghok geleen, maar kat se kind laat hom egter nie so maklik mislei nie.
Ek wil nie u kat skade aandoen nie, maar nou wil ek weet wat ek moet doen om my skade te verminder? Gee raad.
Voëlboer Wellington
More
News
|