Uitblinkers op veiling
2006-04-06
BYKANS die helfte van die 156 wyne wat vir die 32ste Nederburg Veiling gekeur is, het reeds op plaaslike en internasionale wyntentoonstellings uitgeblink, en het ook gesogte lystings op lugrederye of vyfstergraderings in gerespekteerde publikasies soos die John Platter wyngids gehad.
“Dis duidelik dat die 60-tal proeërs op die keuringspaneel weet wat hulle doen!” sę Duimpie Bayly, wat aan die hoof van een van die proepanele was, en as konsultant vir die Nederburg Veiling optree.
“Hoewel daar toenemende sinisme in die kleinhandel bestaan of bedryfstoekennings of die kenmerkende etiket ‘verkoop op die Nederburg Veiling’ die produk se aantreklikheid op die rak en verbruikersverkope bevorder, besef die meeste wynmakers dat dit nog ‘n manier is om te verseker dat hul wyne uitstaan.
Die Veiling dien ook as ‘n toonvenster vir die talente van plaaslike wynmakers, onder wie etlike as Diners Club wynmakers van die jaar aangewys is.
Onder hulle is Carl Schultz van Hartenberg, Jeff Grier van Villiera, Daniël de Waal van DeWaal Wines/Uiterwyk, Danie Malan van Allesverloren, Danie de Wet van De Wetshof en die opkomende wynmakers soos Groot Constantia se keldermeester Boela Gerber, wat as die Diners Club Jong Wynmaker van die Jaar in 2002 aangewys is.
Internasionaal is daar Altus le Roux van Boland Kelder wat as die węreld se wynmaker van die jaar by die 2001 Internasionale Wyn en Spiritualië Kompetitsie aangewys is. Hy het in die voetspore getrap van Nederburg se voormalige keldermeester, Günter Brüzel, wat in 1985 dieselfde erkenning verdien het.
Die Old Vines Vintage Brut 2001 was verlede jaar ‘n goue medaljewenner by die Michelangelo International Wyntoekennings, asook die Rijk’s Private Cellar Chenin Blanc 2003 in 2004, die Beaumont Ariane 2001 in 2003, die Kaapzicht Bin3 Cabernet Sauvignon 2001 in 2002, en Rijk’s Private Cellar Pinotage 2000 en die Shiraz 2000 in 2001.
Drie van die Chenin Blanc wyne is goue medaljewenners: Ken Forrester se Chenin Blanc 2003; die Kleine Zalze Cellar Selection Chenin Blanc Bush Vines 2004; en Rijk’s Private Cellar Chenin Blanc 2003.
More
News
|