Arendsnes leer kinders hul les
2006-04-06
Lise Beyers
OP Wellington is daar ’n baie spesiale projek aan die broei om die talle hawelose straatkinders by te staan.
Onder die leiding van ds NJ van As, is die Arendsnes-projek reeds in 2001 geloods, en is die afgelope jaar geleë op die hoek van Hoof- en Joubertstraat.
Die hoofdoel van die projek is om kinders met hul ouers te verenig, of om hulle in pleegsorg te plaas.
“Ons wil hier ’n tuiste skep vir hawelose kinders waar hulle ’n huislike atmosfeer kan ervaar en veilig voel, totdat daar permanente sorg vir hulle gevind word,” het Van As gesê.
Dit is egter nie so maklik om vir straatkinders permanente sorg te vind nie, want van hulle is reeds so lank op die straat dat dit vir hulle baie moeilik is om in ’n gedissiplineerde omgewing hervestig te word.
By Arendsnes word daar verskeie programme vir die kinders aangebied waar hulle bedags onder die toesig van Koela Petersen skilder- en handwerkklasse neem.
Omdat baie van hulle nie wil, of kan, terugkeer skool toe nie, is dit belangrik om vir hulle vaardighede te leer, wat daartoe sal lei dat hulle kan gaan werk as hulle volwasse is.
Saul en Karen Fransman woon permanent op die perseel en hou toesig oor die kinders. Hulle voorsien ook vir hulle drie keer ’n dag ’n maaltyd.
Tans is hulle besig om ’n tuin te skep, waar die seuns sal leer om onder andere groente te kweek.
Daar word ook van hulle verwag om by te dra tot die skoonmaak en die instandhouding van die perseel.
“Die doel hiervan is om die kinders te ontwikkel en hulle te leer dat voorregte ook verantwoordelikhede meebring,” het ds Van As gesê.
Mense wat meer inligting oor die projek wil bekom, kan vir Elri Theron skakel by 873-2645.
* Wellington streetchildren are given a home away from home.
More
News
|