Nog rekords vir Smit, Watson
2006-04-06
TWEE atlete van die Paarl het nuwe rekords opgestel tydens die SA Skolekampioenskap wat die naweek in Sasolburg gehou is.
Louw Smit van Paarl Gimnasium het ’n tyd van 14,14s in die 110mH vir seuns 17 jaar losgeblits, terwyl die lang bene van die Boishaaier, Keenan Watson, hom ’n wêreldklas-afstand van 7,60m in die verspring vir seuns 19 jaar besorg het.
Die ander Boland-atleet wat ook ’n nuwe SA Skole-rekord opgestel het, is Bryan-Peter Kemp van Paul Roos Gimnasium, wat ’n afstand van 19,01m in die gewigstoot vir seuns 15 jaar behaal het.
Nog ’n Gim-atleet wat die oog gevang het, is Jacques du Plessis. Du Plessis het die goue medalje in die 100mH vir seuns 15 jaar met ’n 100ste van ’n sekonde gemis, maar ’n nuwe persoonlike beste tyd van 13,45s in die finaal opgestel. Sy vorige beste tyd was 13,75s.
Die Boland het 92 jeug- en junior atlete gestuur wat deel gevorm het van die Wes-Kaapse Skolespan van 199 atlete.
’n Verdere ses Boland Skole-rekords is ook verbeter. Die Boland-atlete het ook meer as die helfte van die medaljes vir die Wes-Kaapse span gewen.
Boland se atlete het 33 (16 goud, 10 silwer en sewe 7 brons) van die Wes-Kaap se 64 individuele medaljes gewen.
Die Wes-Kaap was dan ook tweede op die medalje-telling naas Gauteng.
Die atlete wat Boland rekords opgestel het, was Dean Swart (400m s.15 49,58s), Christiaan Norman (ps s.15 4,20m), Bryan-Peter Kemp (gs s.15 19,01m), Louw Smit (110mH s.17 14,14s), Wenda Theron (200m m.19 24,27s) en Marthunis van der Vyver (200m s.17 21,30s), Plaaslike atlete wat medaljes gewen het, is (Goud) Liné Barnard (HMS gs m.17 12,76m), Dayne La Kay (New Orleans 100m s.19 10,59s), Louw Smit (Gim 110mH s.17 14,14s), Keenan Watson (HJS vs s.19 7,60m), Janita Stander (LAR ps m.17 3,30m), Dean Morgan (Gim hg s.15 47,98m), (Silwer) Niki Horn (LAR 100m m.19 12,39s), Curt Ruiters (HJS 100m s.15 11,28s), Jacques du Plessis (Gim 100mH s.15 13,45s), Christiaan Norman (Gim ps s.15 4,20m), Ferney Kitshoff (Gim sg s.19 64,76m), Niki Horn (LAR 200m m.19 24,90s), (Brons) Francois Burger (Gim ps s.17 3,90m), Marcilino Davids (Groenberg 800m s.17 1:54,48),
Die SA Jeug en Junior Kampioenskappe word môre en Saterdag in Pretoria gehou.
More
News
|