Bolanders loop eendagreeks-titel net-net mis
2006-04-06
’n SKAMELE vier lopies het Saterdag hier tussen die Boland Amateur Krieketspan en die titel as nasionale eendagkampioen gestaan.
Die Boland moes in hul laaste twee beurte 30 lopies aanteken nadat hulle met rukke en stote gekolf het in ’n poging om die Titans se telling van 240/4 verby te steek.
Ses balle later het hulle nog 15 lopies gekort maar ondanks ’n grootse poging deur beide Wallace Albertyn (58nun van 46 balle, 4x6) en Lee-roy Walters (12nun) is die tuisspan beperk tot 236/8.
Die Titans se totaal was grootliks te danke aan die beurte van Gerald Dros (68), Faf du Plessis (65) en M Aronstam (59).
Die Bolanders wat die beste met die bal gevaar het, was Godfrey Stevens (2/28 in 9bb), Waylain September (1/41 in 9bb) en Wallace Albertyn (1/42 in 8bb).
Die tuisspan se kolwers het gesukkel om op dreef te kom, met die grootste vennootskappe wat uit 30 tot 45 lopies bestaan het.
Die top orde kolwers het ietwat in die hek geduik met September (5), Wiaan Smit (6) en Henry Davids (3) wat goedkoop uitgehaal is.
Benewens Albertyn het Dawid Malan (28 in 39 balle, 4x5), Clifford Prinsloo (36 in 37 ball, 4x7) en Warren Swan (56 in 70 balle, 4x6) moedig gekolf vir die tuisspan.
“Ons het paaltjies op kritieke tye verloor en dit het ons momentum versteur,” het die Boland-breier, Salieg Nackerdien, vandeesweek gesê.
“Dit is teleurstellend, maar ons het ’n jong span waarmee ons kan vorentoe kyk en het goeie ervaring opgedoen waarop ons kan bou.”
* Die Boland speel vandag teen ’n span van die Somerset County Cricket Club.
More
News
|